Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket is vandag eerste: Die witbal-afrigter van die Proteas, Rob Walter, is oortuig die groep wat hy vir aanstaande maand se IKR Kampioenetrofee aangewys het, besit die potensiaal om die titel te wen. Die groep van 15 lede sluit die snelboulers, Anrich Nortjé en Lungi Ngidi in, wat die hele internasionale seisoen tuis weens beserings misgeloop het. Kolwers Tony de Zorzi, Ryan Rickelton en Tristan Stubbs, asook die veelsydige Wiaan Mulder, speel die eerste keer in ‘n senior IKR-toernooi oor 50 boulbeurte. Volgens Walter het die groep baie ervaring:
In nog krieketnuus is MI Cape Town terug op die wenpad met ʼn oortuigende 33-lopie-sege oor Paarl Royals in die SA20 se Kaapse derby op Nuweland. Nuweling Reeza Hendricks se 59 het die grondslag gelê vir die tuisspan se 172 vir sewe in hul 20 boulbeurte. In antwoord daarop het George Linde die beste SA20-syfers van sy loopbaan gelewer met drie paaltjies vir 15 lopies in vier boulbeurte, met die Paarl Royals wat tot 139 vir nege beperk is. MI Cape Town se kaptein, Rashid Khan, sê hulle het goed presteer:
# Vervolgens, tennis: Die kwarteindfinalis van 2024 se Australiese Ope, Taylor Fritz, het vir die sewende agtereenvolgende jaar na die tweede ronde deurgedring. Die Amerikaner het sy landgenoot Jenson Brooksby 6-2, 6-0, 6-3 geklop. Matteo Berrettini van Italië het met 32 kishoue met Cameron Norrie van Brittanje afgereken in 6-7, 6-4, 6-1, 6-3. In die vroue-afdeling is Elena Rybakina van Kazakhstan deur na die tweede ronde met ‘n sege van 6-1, 6-1 oor Australië se Emerson Jones. Brittanje se nommertwee-speler, Emma Raducanu, die Amerikaner Emma Navarro en die Rus Daria Kasatkina het ook deurgedring.
# Rugbynuus: Wallis se afrigter, Warren Gatland, is onder druk en sê hy aanvaar ‘n verandering is moontlik indien die span nie gedurende die Sesnasies ‘n verbetering toon nie. Wallis kon nog nie weer ʼn toets wen sedert hulle Georgië tydens die Wêreldbeker in 2023 geklop het nie. Die span is versterk met die terugkeer van Taulupe Faletau, Liam Williams en Josh Adams en hulle eerste wedstryd is op 31 Januarie teen Frankryk in Parys. Volgens Gatland is die vraag of hulle bo kan uitkom:
# Ons sluit af met boks: Die gewese swaargewig-wêreldkampioen, Tyson Fury, het sy uittrede met onmiddellike ingang aangekondig. Die 36-jarige Brit was in Desember laas in die kryt toe hy sy geveg teen die WBA-, WBC- en WBO-kampioen, Oleksandr Usyk, verloor het. Dis nie die eerste keer dat Fury sy aftrede aankondig nie. Hy het in April 2022, nadat hy Dillian Whyte verslaan het, ook gesê hy gaan sy handskoene ophang. Fury is ʼn tweemalige swaargewigkampioen met ʼn rekord van 34 oorwinnings, twee nederlae en een geveg wat gelykop geëindig het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….