Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Januarie 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Die Wêreld-toetskampioenskap se eindronde is eers oor vyf maande, maar dis reeds voorop in Australië se kaptein, Pat Cummins, se gedagtes. Hy sê hulle groot doelwit ná die sege teen Indië is om hul titel te verdedig. Australië kom in Junie op Lord’s teen Suid-Afrika te staan ná hulle sespaaltjie-oorwinning gister in die vyfde toets teen Indië in Sydney. Dis die Australiërs se eerste reeksoorwinning oor hul Indiese teenstanders in ‘n dekade. Dit bevestig ook hulle kragmeting teen die Proteas in die kampioenskap.
Indië se afrigter, Gautam Gambhir, sê intussen die ervare kolwers Rohit Sharma en Virat Kohli het steeds ʼn toekoms by die span as hulle dit wil hê, ten spyte van die teleurstellende Australiese toer. Indië het die reeks met 3-1 verloor nadat hulle Sondag die vyfde toets met ses paaltjies verloor het. Rohit het op sy eie versoek ʼn blaaskans geneem terwyl Kohli 17 en ses in sy twee kolfbeurte in Sydney bygedra het. Gambhir sê hulle beskik steeds oor honger en passie en kan hopelik voortgaan om Indiese krieket te bevorder.
# Ons maak ‘n draai by tennis: Die wêreld se nommer nege, Daria Kasatkina, het tot die tweede ronde van die Adelaide Internasionale toernooi deurgedring, maar die Olimpiese silwermedaljewenner, Donna Vekic, van Kroasië het vasgeval met haar derde agtereenvolgende nederlaag dié seisoen. Kasatkina van Rusland, wat die afgelope twee jaar in dié opwarmingstoernooi vir die Australiese Ope tweede geëindig het, het Olivia Gadecki van Australië verslaan. Sy speel nou teen Emmerson Jones wat verlede jaar in die junior-afdeling in Melbourne en op Wimbledon tweede geëindig het. Vekic het laasjaar op Wimbledon in die halfeindronde gespeel, maar het in Adelaide teen Yulia Putintseva van Kazakstan verloor.
Die huidige Wimbledon-kampioen, Barbora Krejcikova, het haar ondertussen aan die Australiese Ope onttrek weens ‘n rugbesering. Die 29-jarige Tsjeg sal ook nie in dié week se Adelaide Internasionale-kampioenskap speel nie. Krejcikova het verlede jaar die Wimbledon-titel gewen – drie jaar ná haar sege in die Franse Ope. Sy het ook sewe Grand Slam-dubbelstitels gewen, insluitend die Australiese Ope, en drie gemengde dubbels-titels in Melbourne. Die Australiese Ope begin op 12 Januarie.
# Ons sluit af met sokker: Amad Diallo het gister laat in die Anfield-wedstryd tussen die Premierliga-voorlopers, Liverpool, en Manchester United met ʼn doel geslaag wat Liverpool se strewe na ʼn titel geknou het. Die wedstryd het gelykop geëindig met twee-elk. United het in die 52ste minuut voorgeloop toe Lisandro Martinez uit ʼn moeilike hoek ʼn doel geskop het. Cody Gakpo van Liverpool het sewe minute later sake gelykop gemaak voordat Mohamed Salah die gashere met ʼn strafskop ʼn voorsprong gegee het. Liverpool is steeds die voorloper met 46 punte ná 19 wedstryde. United het na die 13de plek opgeskuif met 23 punte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….