Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Desember 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met krieket: ‘n Reeksoorwinning wink vir die Proteas in vanaand se tweede T20 teen Pakistan op SuperSportpark in Centurion. Suid-Afrika het Dinsdag se opwindende eerste kragmeting in Durban met ‘n skamele 11 lopies gewen. Die derde en laaste wedstryd word môre in die Bullring op die Wanderers in Johannesburg gespeel, waar groot tellings aan die orde van die dag is. Daarna pak die twee lande mekaar in eendagwedstryde in die Paarl, Kaapstad en Johannesburg, gevolg deur toetse in Centurion en op Nuweland.
Die 18-jarige Kwena Maphaka is intussen die eerste keer ingesluit in die Proteas se eendaggroep vir die wedstryde teen Pakistan. Hy het vroeër vanjaar op die onder 19-Wêreldbekertoernooi beïndruk toe hy 21 paaltjies geneem het. Die snelbouler Kagiso Rabada keer die eerste keer sedert November verlede jaar terug na die eendag-groep. Die groep word ook versterk met die terugkeer van David Miller en Heinrich Klaasen, wat in Desember verlede jaar laas in hierdie formaat te sien was.
# Vervolgens, gholf: Andy Sullivan van Engeland het ‘n voorsprong van een hou gehad aan die begin van die tweede ronde van die Alfred Dunhill-kampioenskap op Leopard Creek in Mpumalanga. Hy het die eerste ronde voltooi in 64 houe – agt onder baansyfer. Drie spelers is saam tweede op sewe onder – sy landgenoot Alex Fitzpatrick, die Suid-Afrikaner Casey Jarvis en die Sweed Marcus Kinhult. Sullivan, wat sy eerste twee DP World-toer-seges in die land in 2015 behaal het, sê hy voel altyd gemaklik om in Suid-Afrika te speel:
# Ons kom by sokker: Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het vyf-miljoen-rand aan die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging voorgeskiet om te verseker spelers ontvang hul salarisse voor die feestyd. Volgens minister Gayton McKenzie word die voorskot van SAFA se toekenning vir volgende jaar afgetrek om te verseker spelers word vergoed vir hul prestasies, insluitend Bafana Bafana se kwalifisering vir die Afrikabekertoernooi en Banyana Banyana se suksesse. SAFA het ingestem om ‘n finansiële omkeerplan voor te lê na tekorte met borgskappe en laat betalings deur vennote.
# Ons sluit af met tennis: Die driemalige Grand Slam-kampioen Stan Wawrinka is ‘n promotorskeuse vir die Australiese Ope in Melbourne. Die 39-jarige Switser het die toernooi in 2014 gewen, maar voortdurende beserings het daarna verhoed dat hy ver kon vorder. Agt Australiërs is ook promotorskeuses, insluitend Daria Saville en Ajla Tomljanovic (Aila Tomlanovitsj). Die Chinese veteraan Zhang Shuai en Kasidit Samrej van Thailand is vroeër op dieselfde manier in die hooftrekking ingesluit nadat hulle die uitspeelwedstryde van die Asië-Stille Oseaan-toernooi gewen het. Die eerste Grand Slam van die jaar begin op 12 Januarie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….