Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Desember 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons slaan af met gholf: Die Suid-Afrikaner Louis Oosthuizen glo hy sal sy Alfred Dunhill-kampioenkapstitel in Mpumalanga kan verdedig ondanks baie sterk teenstand. Agt van die laaste 13 kampioene in Malelane neem deel, insluitend sy landgenote Charl Schwartzel, Christiaan Bezuidenhout, Brandon Stone en Richard Sterne, asook die Spanjaard Pablo Larrazabal. Oosthuizen beskou verlede jaar se oorwinning oor Schwartzel as een van sy beste prestasies en beskryf Leopard Creek as ‘n baan wat hom nog altyd ore aangesit het.
# Vervolgens, kanovaart: Volgende jaar se Dusi-marathon in KwaZulu-Natal keer terug na die oorspronklike wegspringplek by Camps Drift in Pietermaritzburg, maar gebeurlikheidsplanne is beraam in die geval van swak watergehalte. Die organiseerders sê ondanks die uitdagings sal hulle roeiers steeds die kans kan bied om aan die gewilde wedvaart deel te neem. Hulle sê die Dusi sal altyd die mees ikoniese wedvaart in Suid-Afrika bly, en beloof om sy erfenis vol te hou. Dit vind plaas van 20 tot 22 Februarie.
# Ons kom by krieket: Engeland se vrouespan het ‘n reeksoorwinning van 2-1 oor Suid-Afrika behaal toe hulle die derde en laaste eendagwedstryd in Potchefstroom met ses paaltjies gewen het ingevolge die Duckworth-Lewis-Stern-metode. Kaptein Laura Wolvaardt se 61 het bygedra tot die Proteas se 233 vir agt. Die teiken is ná ʼn reën-onderbreking aangepas tot 152 in 23 boulbeurte. Tammy Beaumont en Amy Jones het ʼn onoorwonne 90 lopies om die vyfde paaltjie opgebou om Engeland se oorwinning te verseker. Beaumont sê dit was ʼn goeie kolfblad:
Intussen is geen ooreenkoms nog bereik oor die formaat van volgende jaar se Kampioenetrofee-toernooi nie, nadat Indië geweier het om in die gasheerland, Pakistan, te speel, te midde van sekerheidsvrese en politieke spanning. Pakistan het skynbaar ingestem tot ‘n hibriede toernooi wat behels dat hy in Doebai teen Indië speel, maar Indië maak beswaar oor die voorwaarde dat hy dan moet instem tot ‘n soortgelyke formaat in elke internasionale toernooi wat hy tot 2027 aanbied. Die agt beste manspanne in verlede jaar se eendag-Wêreldbekertoernooi sal aan die toernooi deelneem.
# Ons sluit af met sokker: 2030 se Wêreldbekertoernooi vir mans sal in ses lande op drie vastelande gespeel word. Die wêreldbeheerliggaam, Fifa, het die toernooi aan Marokko in Afrika en die Europese lande Spanje en Portugal toegeken. Sommige wedstryde word ook in Argentinië, Paraguay en Uruguay in Suid-Amerika gespeel ter herdenking van die eerste Wêreldbeker-toernooi op daardie vasteland 100-jaar gelede. Fifa het 2034 se toernooi aan Saoedi-Arabië toegeken terwyl die wêreldwye skouspel in 2026 in Kanada, Amerika en Mexiko plaasvind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….