Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Suid-Afrika se vroue het Nederland in Bristol met 88 lopies afgeransel in die T20-Wêreldbekertoernooi en is steeds op koers om die halfeindronde te haal. Tazmin Brits het ‘n onoorwonne 114 bygedra tot die Proteas se 208 vir een. Ayabonga Khaka het daarna drie paaltjies platgetrek en Nederland tot 120 vir agt help beperk. Suid-Afrika moet Bangladesj in hul laaste groepswedstryd klop en hoop Indië verloor teen Australië om die halfeindronde te haal, anders sal kwalifisering van die netto lopie-koers afhang.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die hele span stem saam oor die verwagtings en standaarde vir die Nasieskampioenskap wat voorlê. Suid-Afrika speel volgende Saterdag op Ellispark in Johannesburg teen Engeland in die reeks se openingswedstryd. Hulle volgende kragmeting is op 11 Julie in Pretoria teen Skotland en ʼn week later in Durban teen Wallis. Erasmus is tevrede dat die nodige boustene gelê is. Hy is ook bly oor die spelers se waardevolle wedstryd-tyd teen die Barbarians en Zimbabwe.
Die ervare stut Rambo Kubheka sal die Junior Springbokke intussen môre teen Uruguay aanvoer in hul Groep A-wedstryd van die Junior Wêreldkampioenskap in Tbilisi, Georgië. Die span se kaptein, Siphosethu Mnebelele, is op die bank gekies vir die SA-onder-20’s se eerste kragmeting van die toernooi. Afrigter Kevin Foote het op ‘n verdeling van vyf voorspelers en drie agterspelers op die bank besluit vir die wedstryd teen die Suid-Amerikaners. Afskop is môreaand half-sewe.
# Sokker: Nicolas Pepe se twee doele het Ivoorkus ‘n oorwinning van 2-0 oor die nuweling, Curacao, verseker in Philadelphia en hulle die heel eerste keer laat deurdring na ‘n Wêreldbeker-uitklopronde. Die land het tweede geëindig in Groep E en speel Dinsdag teen Frankryk of Noorweë. Ecuador het Duitsland, wat reeds gekwalifiseer het, in New Jersey 2-1 verslaan om die ronde van 32 te haal as een van die beste geplaasde derdeplek-spanne. Swede en Japan kwalifiseer albei vir die uitklopfase ná hul gelykop-stryd van een-elk in Dallas.
# En motorsport: Die naweek se Formule Een-Grand Prix in Oostenryk is tot ‘n hittegevaar verklaar, wat beteken bestuurders mag ‘n goedgekeurde verkoelingstelsel gebruik. Temperature van hoër as 31-grade Celsius word in Spielberg voorspel. Die stelsel laat ‘n verkoelingsvloeistof deur pypies vloei in ‘n hittebestande hemp wat onder die oorpak gedra word. Sommige renjaers vind dit egter ongemaklik en dra dit nie. Die kajuit van ‘n F1-motor kan temperature van hoër as 40-grade bereik, wat oorverhitting ‘n ernstige gevaar maak, veral aangesien bestuurders verskeie lae beskermende klere dra.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….