Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Desember 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Suid-Afrika het sy eerste beurt hervat op 269 vir sewe op die tweede dag van die tweede toets teen Sri Lanka in Gqeberha. Ryan Rickelton het gister sy eerste toetshonderdtal behaal en deelgeneem aan twee belangrike vennootskappe – 133 saam met kaptein Temba Bavuma en 77 saam met Kyle Verreynne. Lahiru Kumara het drie paaltjies ingepalm. Die Proteas het verlede week se eerste toets in Durban met 233 lopies gewen.
# Ons maak nou ‘n draai by rugby: 2024/25 se Kampioenebeker-reeks begin die naweek, en die eerste wedstryd is vanaand in Engeland tussen Bath en La Rochelle. Drie Suid-Afrikaanse spanne speel in die kompetisie, wat beskou word as die toppunt van klubrugby in die wêreld. Dit behels 24 spanne wat in vier groepe meeding. Die Haaie speel môremiddag in Durban teen Exeter Chiefs, en die Stormers in Gqebeha teen Toulon. Die Bulle pak Saracens môreaand in Londen.
# Vervolgens, gholf: Die verdedigende kampioen, Max Homa van Amerika, is een hou voor die Suid-Afrikaner, Ockie Strydom, na ʼn aanvangsronde van ses onder 66 in die Nedbank-uitdaagtoernooi by Sun City. Die Engelse spelers Andy Sullivan en Matthew Jordan is drie houe agter en deel die derde plek met Pablo Larrazabal van Spanje en die Nederlander Thorbjorn Olesen. Die Suid-Afrikaner Christiaan Bezuidenhout is in die volgende groep. Homa sê hy het oor die algemeen goed gespeel:
# Nou sokker: Mamelodi Sundowns is in Groep F saam met Fluminense van Brasilië, die Duitse reuse Borussia Dortmund, en Ulsan van Suid-Korea in 2025 se Fifa-klub-Wêreldbekertoernooi. Die verdedigende kampioen, Manchester City, kom in Groep G teen Wydad AC van Marokko en Al Ain van die Verenigde Arabiese Emirate te staan. Lionel Messi se span, Inter Miami skop die toernooi af teen die Egiptiese span, Al Ahly. Die kompetisie wat vergroot is tot 32 klubs, vind in Amerika plaas en duur van 15 Junie tot 13 Julie.
# Ons sluit af met padwedlope: Inskrywings vir volgende jaar se 98ste Comrades-marathon in KwaZulu-Natal het vir ʼn beperkte tydperk heropen. Die vorige inskrywingsproses het gesluit toe die inskrywingsperk van 23-duisend bereik is. Die Comrades-marathonvereniging se waarnemende wedloopbestuurder, Alain Dalais, sê slegs ‘n duisend inskrywings is beskikbaar van vandag tot Maandag om middernag, of tot die beskikbare getal bereik word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….,