Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Desember 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons spring weg met krieket: Oorwinnings in hulle oorblywende drie toetse van die seisoen sal die Proteas laat deurdring na die eindstryd van die huidige Wêreldtoetskampioenskap. Suid-Afrika is tans tweede op die punteleer na Indië nadat hulle Sri Lanka in Durban met 233-lopies verslaan het. Hulle sal vir die eindstryd kwalifiseer as hulle die tweede toets in Gqeberha wen, sowel as die volgende twee teen Pakistan – ongeag van ander uitslae. Indië, Australië, Nieu-Seeland, Sri Lanka, Engeland en Pakistan kan ook nog die titelstryd haal.
Krieket Australië het Todd Greenberg intussen aangestel as sy nuwe uitvoerende hoof. Hy is die 15de persoon wat die organisasie lei sedert dit in 1982 gestig is. Greenberg is die huidige hoof van die Australiese Krieketspelersvereniging en voormalige hoof van die Nasionale Rugbyliga. Hy sal in Maart oorneem wanneer Nick Hockley uittree. Greenberg sê die spel se vinnige groei wêreldwyd skep wonderlike geleenthede, maar ook uitdagings om seker te maak Australiese krieket bly onder die topspanne.
# Nou rugby: Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson, sê daar is nie druk op sy span voor die begin van die Kampioenebeker-kompetisie nie. Hulle speel Saterdag in Gqeberha teen Toulon, en ‘n week later oorsee teen Harlequins. Die Stormers is tans 13de op die Verenigde Rugbykampioenskapspunteleer na vier nederlae in ses wedstryde, maar Dobson meen hulle kan nog die seisoen omkeer. Hy sê hulle het sonder vyf Springbokke teen die Haaie gespeel, maar steeds groot veggees getoon in hulle nederlaag van 15-22.
# Padwedlope: Die inskrywingsperk van 23-duisend vir volgende jaar se 98ste Comrades-marathon in KwaZulu-Natal is bereik, nege dae voor die amptelike afsnydatum. Meer as 80 lande sal op 8 Junie deelneem aan die af-wedloop oor sowat 89 kilometer van Pietermaritzburg na Durban. Die Comrades-marathonvereniging se waarnemende wedloop- en bedryfsbestuurder, Alain Dalais, sê dit sal nog ‘n onvergeetlike en uitdagende wedloop wees.
# Ons sluit af met motorsport: Die Mexikaan Sergio Perez gaan volgens berigte sy bestuurdersposisie by Red Bull verloor ná die komende naweek se laaste Grand Prix van die seisoen in Abu Dhabi. Die 34-jarige het slegs 152 van Red Bull se 581 vervaardigerspunte aangeteken en is 227 punte agter die wêreldkampioen, Max Verstappen. Die kontrakverlenging wat Perez in Junie onderteken het, beteken dat hy nie summier afgedank kan word nie, maar hy kan na ‘n ambassadeursposisie verskuif word. Die Red Bull-renjaers Yuki Tsunoda en Liam Lawson is die voorste kandidate om hom te vervang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….