Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Haaie gaan môre probeer om nog ‘n oorwinning te behaal oor ‘n gewese Verenigde Rugbykampioenskaps-titelhouer wanneer hulle die Stormers op Kingspark in Durban verwelkom. Hulle het al vir Glasgow Warriors verslaan, en vir Munster wat die vorige seisoen gewen het. Verskeie Springbokke is terug in die span: die stutte Ox Nché en Vincent Kock, kaptein Siya Kolisi, wat die span aanvoer terwyl Eben Etzebeth beseer is, die broers Jaden en Jordan Hendrikse, Makazole Mapimpi, Lukhanyo Am, Aphelele Fassi en Grant Williams. Afskop is 5-uur.
# Vervolgens, krieket: Harry Brook se sewende toets-honderdtal het Engeland gered en hulle het die tweede dag van die eerste toets teen Nieu-Seeland in Christchurch afgesluit op 319 vir vyf. Brook en Ollie Pope het ‘n vennootskap van 151 om die vyfde paaltjie aangeteken nadat Engeland gesukkel het op 71 vir vier na Nieu-Seeland se 348. Joe Root is in sy 150ste toetswedstryd uit vir ʼn nulletjie. Brook, onoorwonne op 132, gaan môre probeer voortbou op sy vennootskap van 97-lopies met kaptein Ben Stokes. Engeland is tans 29-lopies agter.
# Nou tennis: Die Franse Ope-kampioen, Iga Swiatek, is vir slegs ‘n maand geskors vir ‘n opkikker-oortreding nadat sy die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap oorreed het dit was nie opsetlik nie. Die Poolse speler het in Augustus buite ‘n kompetisie positief getoets vir ‘n verbode middel. Die agentskap het aanvaar die positiewe toets was te wyte aan besmetting.
# Ons maak ‘n draai by sokker: Sokker: Manchester United het onder leiding van sy nuwe afrigter, Ruben Amorim, op ʼn wen-noot afgeskop op Old Trafford toe hy Bodo/Glimt in die Europese Liga 3-2 verslaan het. Rasmus Hojlund het twee doele aangeteken en Alejandro Garnacho een om United se kans te verbeter om outomaties vir die laaste 16 te kwalifiseer. Chelsea is onoorwonne na vier wedstryde na hy Heidenheim 2-0 geklop het, terwyl Tottenham en Roma gelykop gespeel het met twee-elk. Amorim sê hy kan ʼn verbetering sien:
# Ons sluit af met motorsport: Die Britse renjaer Lando Norris verskil van die Nederlander Max Verstappen dat hy die Formule Een-wêreldkampioenskap sou wen selfs as hy ʼn McLaren of ʼn Ferrari bestuur het. Verstappen van Red Bull het Saterdag in Las Vegas sy vierde F1-wêreldkampioenskap beklink met twee wedrenne oor. Norris van McLaren, wat Verstappen se enigste oorblywende teenstander in die titelstryd was, sê Red Bull het hierdie seisoen in die meeste wedrenne die vinnigste motor gehad:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….