Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Italië, Georgië, Australië en Argentinië speel volgende jaar in Suid-Afrika teen die Springbokke. Die wedstryde op die vyfde en twaalfde Julie sal die Azzurri se eerste in die land wees in 12 jaar. Die Bokke speel ‘n week later teen Georgië, waarna die verdedigende kampioen in Augustus in twee Rugbykampioenskapstoetse teen die Wallabies te staan kom. Die Bokke speel dan twee toetse teen die All Blacks in Nieu-Seeland, gevolg deur ‘n tuis- en ‘n wegwedstryd teen die Pumas.
Senior All Blacks was volgens berigte kwaad en ontnugter oor hoofafrigter Scott Robertson se ligte straf vir die losskakel Damian McKenzie nadat hy vroeër vanjaar spanprotokol oortree het. Hy het die bus verpas na Nieu-Seeland se oorwinning oor Fidji in San Diego in Julie, maar moes slegs op sy eie by die lughawe kom en die span om verskoning vra. Die Kiwis het die volgende wedstryd teen Argentinië verloor. Die nuwe breier het blykbaar gevaar geloop om die senior spelers te vervreem omdat hy McKenzie nie swaarder gestraf het nie.
# Vervolgens, krieket: Engeland se vrouespan het Suid-Afrika met 36 lopies geklop in die tweede T20-wedstryd in Benoni, en daarmee die reeks van drie wedstryde in hul guns beklink met een wedstryd wat oorbly. Danni Wyatt-Hodge het 78 lopies aangeteken en Nat Sciver-Brunt ‘n onoorwonne 67. Die besoekers het 204 vir vier op die telbord geplaas wat hul derde hoogste T20-telling is. Suid-Afrika is daarna beperk tot 168 vir ses met Sarah Glenn wat vier paaltjies platgetrek het. Die laaste T20 vind Saterdag in Centurion plaas.
Nog krieketnuus: Kane Williamson het 93 vir Nieu-Seeland aangeteken op die eerste dag van die eerste toets teen Engeland in Christchurch, en die gasheer het met uitskeityd 319 vir agt op die telbord gehad. Williamson het vasgeskop ná sy span reeds in die tweede boulbeurt ‘n paaltjie verloor het, maar is uitgehaal net ‘n skamele sewe lopies kort van sy 33ste toets-hondertal. Na sy vertrek het die Swartpette gestruikel en vier paaltjies in die laaste skof afgestaan. Williamson sê die wedstryd is goed gebalanseerd:
# Ons sluit af met sokker: Liverpool het sy perfekte begin in die Kampioeneliga voortgesit met ‘n oorwinning van twee-nul oor die heersende kampioen, Real Madrid. Alexis Allister en die plaasvervanger Cody Gakpo het doele aangeteken vir hulle eerste oorwinning oor Madrid in die kompetisie sedert 2009. Borussia Dortmund is nou in die top agt van die Kampioeneliga met sy oorwinning met drie-nul oor Dinamo Zagreb, terwyl Aston Villa en Juventus geen doele kon aanteken nie. Liverpool se hoofafrigter, Arne Slot, is tevrede met sy span se vertoning:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….