Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth sal opskuif na gesamentlik tiende op die lys van mees ervare toetsveterane wanneer hy Saterdag op Ellispark opdraf in die Rugbykampioenskapswedstryd teen Australië. Sy rekord van die meeste toetse vir Suid-Afrika skuif dan op na 134 – gelyk met die Walliese stut, Gethin Jenkins. Etzebeth en Lood de Jager is die slotte, met Franco Mostert wat van die bank af opkom. Die ander lede van die “bomb squad” is Bongi Mbonambi, Jan-Hendrik Wessels, Asenathi Ntlabakanye en Kwagga Smith.
Die Springbok-vrouegroep kom intussen vandag in Johannesburg byeen voor hulle Donderdag na Engeland vertrek vir die Wêreldbekertoernooi. Twee-en-dertig spelers onder leiding van Nolusindiso Booi is gekies en die span spog met spelers wat altesaam 689 keer vir die Bokke uitgedraf het. Suid-Afrika kom in Groep D teen Brasilië, Italië en Frankryk te staan. Die Bok-vroue se hoofafrigter, Swys de Bruin, sê hy is opgewonde oor die kombinasies waarmee hulle kan werk en hy glo dit sal hulle tot in die uitspeelrondes bring:
# Sokker: Suid-Afrika het hulle eerste oorwinning in Groep C behaal met ‘n 2-1-sege oor Guinee in die Afrikanasies-kampioenskap in Kampala. Bafana Bafana se kaptein, Neo Maema, het die eerste doel in die tiende minuut aangeteken. Moussa Camara van Guinee het die telling voor rustyd gelykop gemaak. In die 54ste minuut het Wayde Jooste die man van die wedstryd, Thabiso Kutumela, se tweede doel vir Suid-Afrika moontlik gemaak. Hierdie sege volg na Bafana Bafana se gelykopwedstryd van 1-elk teen Algerië.
# Krieket: ‘n Reuse-taak wag vandag in Darwin op die Proteas wat Australië moet weerhou van ‘n tiende agtereenvolgende T20-oorwinning om die reeks van drie wedstryde te probeer red. Die gashere het die besoekers in Sondag se eerste wedstryd met 17 lopies verslaan toe Tim David ‘n blitsige 82 van slegs 52 balle aangeteken het. Hy het begin kolf met Australië op 75 vir ses, maar het die Suid-Afrikaanse boulers gestraf en die gasheer kon herbou. Australië se kaptein, Mitchell Marsh, het vandag die loot gewen en die Proteas ingestuur om te kolf.
# En gemengde gevegskuns: Die Suid-Afrikaner Dricus du Plessis glo hy is die buiteperd wanneer hy sy middelgewig- wêreldkampioenskapstitel die derde keer verdedig. Hy veg die naweek in Chicago, Illinois, teen Khamzat Chimaev. Du Plessis het ‘n beroepsrekord van 23 oorwinnings en twee nederlae en het die afgelope 11 gevegte gewen, maar glo die Rus is sy sterkste teenstander nog. Chimaev is onoorwonne na 14 beroepsgevegte. Du Plessis sê wat wel in sy guns tel, is sy unieke styl wat baie moeilik is om na te boots.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….