Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Die Springbokvoorspeler Pieter-Steph du Toit het die eerste Suid-Afrikaner geword om twee keer as Wêreldrugby se Speler van die Jaar aangewys te word. Hy sluit hom aan as dubbele wenner by Beauden Barrett van Nieu-Zeeland, terwyl die All Black-sterre Dan Carter en Richie McCaw dit elk drie keer reggekry het. Bok-afrigter Rassie Erasmus het die Afrigter van die Jaar-toekenning misgeloop wat na Frankryk se Sewes-afrigter, Jérôme Daret, gegaan het. Die losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu het die Deurbraakspeler van die Jaar misgeloop wat aan Wallace Sititi van Nieu-Zeeland toegeken is.
Sewe Springbokke is opgeneem in Wêreldrugby se mans 15s Droomspan van die Jaar. Du Toit is een van vier Suid-Afrikaanse voorspelers in die span. Ox Nché, Malcolm Marx en Eben Etzebeth sluit by hom aan in die pak. Die drie Springbokagterspelers wat ingesluit is, is Damian de Allende, Jesse Kriel en Cheslin Kolbe. Vier spelers van Ierland het die span gehaal, drie van Nieu-Seeland en een van Argentinië.
# Olimpiese Spele: Suid-Afrika het amptelik belangstelling uitgespreek in die aanbieding van 2036 se Somerspele en Paralimpiese Spele. ‘n Lewensvatbaarheidstudie, gerig deur die Internasionale Olimpiese Komitee, sal die land se gereedheid beoordeel. Die minister van Sport, Gayton McKenzie, sal na verwagting die bevindings aan die kabinet voorlê. Die president van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee, Barry Hendricks, loof intussen die stap as ‘n mylpaal vir nasionale eenheid. Die IOK het die belangstelling verwelkom, en prys die samewerkende poging om die moontlikheid te ondersoek.
# Vervolgens, kieket: Engeland se Vroue het Suid-Afrika met vier paaltjies verslaan in die eerste T20 op Buffalopark in Oos-Londen. Die Proteas het 142 vir vyf in hul 20 boulbeurte aangeteken met Nadine de Klerk op ‘n onoorwonne 29. Nat Sciver-Brunt het daarna 59 aangeteken en die besoekers het die teiken bereik met vier balle oor. Vir Engeland was dit die eerste wedstryd sedert hul in Oktober uit die groepsfase van die T20 Wêreldbekertoernooi geval het. Die tweede van die drie T20s word Woensdag in Benoni gespeel.
# Ons sluit af met tennis: Die wêreld nommer-een, Jannik Sinner, het Italië tot ‘n tweede agtereenvolgende Davisbeker-titel gelei deur Nederland met twee-nul te verslaan in Málaga, Spanje. Matteo Berrettini het Botic van de Zandschulp verslaan om ‘n vroeë voorsprong aan Italië te besorg. Die 23-jarige Sinner het Tallon Griekspoor daarna geklop om die trofee in te palm. Italië is die eerste land om twee agtereenvolgende Davisbeker-titels te wen sedert die Tsjeggiese Republiek dit in 2012 en ’13 reggekry het. Sinner sê dis ‘n besondere kompetisie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….