Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus het besluit om die stut Ox Nché ‘n blaaskans te gee tydens Saterdag se toets teen Wallis in Cardiff. Dit beteken Wilco Louw begin as vaskopstut, terwyl Thomas du Toit na loskop verskuif. Vier spelers wat nie op die wedstryddag sal uitdraf nie, Kwagga Smith, Lukhanyo Am, André Esterhuizen en Makazole Mapimpi, het gister na Suid-Afrika teruggekeer. Erasmus sê hulle het steeds genoeg diepte in die groep om alle posisies te dek indien beserings voor die wedstryd sou plaasvind.
Die statistiek is intussen ten gunste van die Springbokke in Saterdag se kragmeting. Die twee spanne het al 42 keer teen mekaar gespeel en Suid-Afrika het 34 keer gewen en Wallis sewe keer, terwyl een wedstryd gelykop was. Die Bokke se grootste oorwinning oor die Walliesers was in 1998 in Suid-Afrika toe hulle 96-13 gewen het – Wallis se grootste nederlaag ooit. ‘n Oorwinning vir die wêreldkampioen op die Principality-stadion sal hulle hulle eerste onoorwonne toer in die noordelike halfrond sedert 2013 besorg.
# Vervlgens, krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, sê hulle mik na die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap. Suid-Afrika is tans in die vyfde plek op die punteleer en speel van Woensdag in Durban teen Sri Lanka in die eerste van twee toetse. Die besoekers is tans derde na Australië en Indië, met Nieu-Seeland vierde. Conrad sê hoewel Sri Lanka ‘n baie goeie span is, weet die Proteas hulle het ‘n goeie kans om te wen as hulle volgens hul vermoëns speel.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, glo sy spelers kan mededingend wees in volgende jaar se Afrikabekertoernooi en het ook ‘n kans om vir die volgende Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer. Suid-Afrika het sy kwalifisering vir die Afrikabekertoernooi onoorwonne afgesluit toe hy Suid-Soedan Dinsdag in Kaapstad 3-nul verslaan het. Bafana is boaan groep K en sal saam met Uganda na Marokko vertrek. Broos sê hulle het nou ‘n goeie kans om vir 2026 se Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer, want hulle het ‘n gehalte-span.
# Ons sluit af met tennis: Italië het hulle vyfde Billie Jean King-beker-titel ingepalm en die eerste een sedert 2013 deur 2002 se kampioen, Slowakye, in Málaga, Spanje, twee-nul te klop. Lucia Bronzetti van die Italiaanse span het Viktoria Hruncakova in die eerste kragmeting van die eindstryd geklop. Die wêreld se nommer vier, Jasmine Paolini, het Italië se oorwinning beklink toe sy Rebecca Sramkova verslaan het. Paolini, wat ‘n uitstekende seisoen agter die rug het, sê dis ongelooflik om die trofee te kon inpalm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….