Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met sokker: Bafana Bafana het Suid-Soedan in die Kaapstadse stadion drie-nul verslaan in hul laaste kwalifiseerder vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi. Iqraam Rayners, Patrick Maswanganyi en Teboho Mokoena het doele aangeteken en Suid-Afrika eerste laat eindig in Groep K voor sy mede-kwalifiseerder, Uganda. Bafana Bafana, wat nou met sestien agtereenvolgende oorwinnings onder afrigter Hugo Broos spog, sal een van die gekeurde spanne wees wat deurdring na die toernooi wat volgende jaar in Marokko plaasvind.
# Vervolgens, rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle is vasbeslote om die jaar op ‘n positiewe noot af te sluit wanneer hulle Saterdag in Cardiff teen Wallis te staan kom. Hy het sewe veranderings aangebring aan die span wat Engeland geklop het, met Jaden en Jordan Hendrikse, die 36ste paar Springbok-broers, wat as skakelpaar uitdraf. Cameron Hanekom gaan die 12de Bok word wat dié seisoen sy toetsbuiging maak. Erasmus sê die span is ‘n goeie mengsel van ervaring en jeug, wat van kardinale belang is om konsekwentheid in keuses te handhaaf.
Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het intussen vier lede van Australië A se groep na die toetskamp opgeroep voor die toetse teen Skotland en Ierland. Hamish Stewart, Darby Lancaster, Tom Hooper en Harry Hoopert toer tans saam met die A-span in Brittanje. Hulle is betrek weens beserings, terwyl ander spelers onbeskikbaar kan wees omdat die kragmeting met Ierland op die 30ste buite die toetsvenster val. Agsteman Harry Wilson behoort terug te wees nadat hy die wedstryd teen Wallis misgeloop het weens harsingskudding.
# Tennisnuus: Rafael Nadal se roemryke loopbaan het tot ‘n einde gekom toe Spanje in die Davisbeker-eindtoernooi in Málaga teen Nederland verloor het. Botic van de Zandschulp het die 22-malige Grand Slam-kampioen verslaan om Nederland ʼn voorsprong van een-nul te gee. Carlos Alcaraz het sake vir Spanje gelykop gemaak met ʼn sege oor Tallon Griekspoor. Wesley Koolhof en Van de Zandschulp het egter in die bepalende dubbelspel met Alcaraz en Marcel Granollers afgereken. Nadal sê hy het meer bereik as waarvan hy ooit gedroom het:
# Ons sluit af met motorsport: Die Britse Formule Een-renjaer Lando Norris sê McLaren kan steeds die dubbele titels van beste renjaer en vervaardiger wen. Daar is nog drie wedrenne oor – in Las Vegas, Katar en Abu Dhabi – en Max Verstappen van Red Bull het ‘n voorsprong van 62 punte bo Norris. In die vervaardiger-kampioenskap het McLaren ‘n voorsprong van 36 punte oor Ferrari, met Red Bull nog 13 punte agter. Norris sê almal is begeesterd om vir albei kampioenskappe te baklei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….