Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Heel eerste, rugby: Die Springbok-hulpafrigter, Deon Davids, sê hulle sal Wallis nie Saterdag in Cardiff onderskat in die laaste wedstryd van hulle jaareindtoer nie. Die Walliesers, wat net meer as ‘n jaar gelede die Wêreldbeker-kwarteindronde gehaal het, probeer weer op die wenpad kom na elf agtereenvolgende nederlae, terwyl die Bokke na ‘n derde opeenvolgende sege streef. Davids sê hulle sal alles moet uithaal ten spyte van Wallis se vorige uitslae:
Australië se afrigter, Joe Schmidt, sê intussen hulle gaan nie gerus raak na hul tweede oorwinning op hul Europese toer nie. Australië het Wallis Sondag 52-20 afgeransel nadat hulle Engeland die vorige naweek verslaan het, en speel volgende teen Skotland en Ierland. Schmidt sê die Wallabies se seges oor al vier Britse tuisunies in 1984 is te lank gelede om te oorweeg. Hy verwag ʼn taai stryd teen Skotland met wie hy gereeld te doen gekry het as Ierland se afrigter. Hy voeg by hy dink nog nie eens aan die wedstryd teen Ierland nie.
# Vervolgens, sokker: Die Konfederasie van Afrikasokker het die topvyf benoemings in die mans se sewe kategorieë vir die CAF-toekennings van volgende maand bekendgemaak. Bafana Bafana se doelwagter, Ronwen Williams, is in drie kategorieë benoem, insluitend Speler van die Jaar en Doelwagter van die Jaar. Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos is benoem as Afrigter van die Jaar, en die nasionale span vir Span van die Jaar. Op die tuisfront is Mamelodi Sundowns benoem as Afrikaklub van die Jaar.
# Tennis: Tennis Suid-Afrika het die Nasionale Klubkampioenskap van stapel gestuur, met prysgeld van meer as 200-duisend-rand. Beide mans en vroue sal in ‘n dubbelspel-spankompetisie deelneem. Dit sal provinsiale uitspeelwedstryde tussen Januarie en Julie volgende jaar insluit, met die wenners wat kwalifiseer vir die nasionale eindronde by Sun City in Noordwes van 29 Augustus tot 1 September. Die president van Tennis SA, Gavin Crookes, sê hierdie geleentheid sal ‘n nuwe geslag spelers inspireer en tennisklubs landwyd opnuut aktiveer.
Die Spaanse meester Rafael Nadal sê intussen die Davisbeker-eindtoernooi gaan daaroor om sy land te help wen, en nie oor sy naderende uittrede nie. Die 38-jarige 22-malige Grand Slam-kampioen gaan sy roemryke loopbaan afsluit na die toernooi, wat vandag in Málaga in sy vaderland begin. Nadal sal dalk net dubbels speel as dit Spanje ‘n beter kans gaan gee om die titel die sewende keer te beklink. Die kwarteindstryde maak Donderdag klaar, gevolg deur die halfeindstryde op Vrydag en Saterdag en die eindstryd Sondag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….