Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Wêreldbeker-wenner gewese Springbok Francois Louw het teruggekap na die Walliese joernalis Stephen Jones se kritiek op die Bokke se “bomb squad”. Jones het gesê afrigter Rassie Erasmus was arrogant om verlede naweek ‘n verdeling van 7-1 op die bank te kies teen Skotland, veral omdat hy ses voorspelers gelyktydig opgestuur het. Jones wil hê Wêreldrugby moet die plaasvervanger-reël wysig. Louw sê dan sal die volgende seker wees dat Cheslin Kolbe nie gekies kan word nie omdat hy te vinnig is, of Makazole Mapimpi omdat hy te goed is.
Erasmus sê intussen die terugkeer na die tradisionele verdeling van vyf voorspelers en drie agterspelers op die bank is gemik op die uitdagings wat Engeland na verwagting môre op Twickenham gaan bied. Daar is 12 veranderings aan Suid-Afrika se opdrafspan wat Skotland verlede naweek verslaan het. Slegs Eben Etzebeth, Ox Nché en Bongi Mbonambi bly oor. Erasmus sê hy is tevrede met die hele span:
Die Australiër Brett Robinson is Wêreldrugby se nuwe voorsitter. Die 54-jarige voormalige toetsflank en chirurg wat ‘n sakeman en sportadministrateur geword het, is die eerste permanente voorsitter van die globale beheerliggaam van buite Europa. Robinson was nege jaar lank op die raad van Rugby Australië en het terselfdertyd ook op die uitvoerende raad van Wêreldrugby gedien. Hy streef na vernuwing en sal in beheer wees van die Nasieskampioenskap wanneer dit uiteindelik in 2026 afskop.
# Vervolgens, sokker: Bafana Bafana het vir 2025 se Afrikabekertoernooi gekwalifiseer sonder om ‘n bal te skop. Dit volg op Suid-Soedan se oorwinning van 3-2 oor die Republiek die Kongo in Juba. Suid-Afrika het tans agt punte en twee wedstryde oor om in Groep K te speel, terwyl die Kongo, met slegs vier punte, nie 1996 se kampioen kan oortref nie, al wen hulle hul laaste wedstryd. Bafana Bafana en Uganda, wat vandag in hul voorlaaste groepskragmeting in Kampala ontmoet, is gewaarborg om albei deur te dring.
# Ons sluit af met tennis: Die organiseerders van die Davisbeker-eindronde beplan ‘n spesiale afskeid vir die Spaanse meester Rafael Nadal tydens die toernooi, wat Dinsdag in Málaga, Spanje, begin. Toernooi-direkteur Feliciano Lopez sê hulle is gelukkig om sy goeie vriend se laaste toernooi aan te bied en beplan ‘n afskeid wat sy glinsterloopbaan eer sal aandoen. Lopez sê baie tennis- en ander sportsterre wil dit bywoon. Nadal en sy landgenote, insluitend Carlos Alcaraz en Roberto Bautista Agut, verteenwoordig Spanje in die toernooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….