Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Indië het Suid-Afrika met elf lopies geklop in die derde T20 in Centurion, en loop met twee-een voor in die reeks van vier wedstryde. Tilak Varma het ‘n onoorwonne 107 van 56 balle aangeteken en die besoekers het 219 vir ses op die telbord geplaas. Die Proteas is daarna in hulle 20 boulbeurte tot 208 vir sewe beperk met die veelsydige Marco Jansen wat 54 bygedra het. Arshdeep Singh het drie paaltjies platgetrek. Die laaste T20 vind môre op die Wanderers in Johannesburg plaas.
# Ons maak ‘n draai by tennis: Die eerste wedstryd van die Billie Jean King-bekertoernooi in Málaga tussen die gasvrou, Spanje, en Pole gaan nou môre gespeel word nadat ‘n rooi weerwaarskuwing uitgereik is vir uiterste reën en oorstromings in dele van die land. Dit volg nadat meer as 200 mense dood is in onlangse oorstromings wat beskryf is as die ergste in Spanje se geskiedenis. Twaalf lande neem deel aan die vrouetoernooi in Andalusië. Die laaste paar dae sal oorvleuel met die mans se Davisbeker-eindtoernooi op dieselfde stadion.
# Nou tyd vir motorsport: Formule Een gaan volgende seisoen met ‘n ongewone byeenkoms afskop wanneer die sport sy 75ste bestaansjaar vier. Al tien spanne en hulle renjaers gaan op 18 Februarie ‘n twee-uur lange extravaganza in die O2-arena in Londen bywoon. F1 se uitvoerende hoof, Stefano Dominicali, sê al 20 die sport se supersterre, spesiale gaste en die aanhangers gaan die heel eerste keer byeenkom. Ferrari is die enigste span wat sedert 1950 reeds aan die kampioenskap deelneem. Die seisoen begin op 16 Maart in Melbourne, Australië.
# Ons maak ‘n draai by sokker: Die skeidregtersliggaam PGMOL sê hy is bewus van ‘n nuwe video wat die rondte doen van die Engelse Premierliga-skeidsregter David Coote. Die 42-jarige is Maandag geskors na ‘n video getoon het het waar hy neerhalende opmerkings oor Liverpool en sy voormalige bestuurder, Jurgen Klopp, maak. In die jongste video word Coote gewys waar hy wit poeier snuif terwyl hy glo vroeër vanjaar by die Europese Kampioenskap as ‘n wedstrydbeampte gewerk het. Die skeidregtersliggaam sê hy neem die aantygings baie ernstig op.
# Ons sluit af met boks: Die gewese swaargewig-wêreldkampioen, Mike Tyson, word gekritiseer omdat hy op 58 weer na die kryt terugkeer. Die Amerikaner veg môre teen die 27-jarige Youtuber, Jake Paul, in ʼn Netflix-ondersteunde geleentheid in Arlington, Texas. Hulle pak mekaar in agt rondes van twee minute elk. Tyson het in 2005 laas as beroepsbokser geveg. Kritici beskryf die geveg as ʼn grieselrige sirkus wat onaanvaarbare risiko’s inhou vir Tyson, wat volgens berigte meer as 365-miljoen-rand sal ontvang. Paul sê hy gaan nie terughou nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….