Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Banyana Banyana se afrigter, Desiree Ellis, word volgende Woensdag in die Suid-Afrikaanse Heldesaal ingehuldig. Sy word vereer vir haar talle prestasies, insluitend om die span in 2022 tot ‘n geskiedkundige Afrikabeker-titel vir Vroue te voer. Ellis kry erkenning naas ander sokkerbekendes soos die afrigter van Bafana-Bafana, Ephraim Mashaba, en die legendes Neil Tovey en Lucas Radebe. Ellis sê sy is dankbaar oor die eer en beskryf dit as ’n seën.
# Nou krieket: Die Proteas en Indië pak mekaar vanaand in die derde T20 op SuperSportpark in Centurion nadat albei een van die vorige twee kragmetings gewen het. Indië het die eerste wedstryd in Durban met 61 lopies gewen en Suid-Afrika die tweede een in Gqeberha met drie paaltjies. Die laaste wedstryd is Vrydag op die Wanderers in Johannesburg. Die verandering vanaf die Ooskus na die Hoëveld word beskryf as wedstryde op twee verskillende vastelande, met die kolfblaaie in die noorde wat meer kolwer-vriendelik is.
Die gewese Protea-kolwer Neil McKenzie is intussen aangestel as raadgewende afrigter vir Sri Lanka voor die twee toetse teen Suid-Afrika. Hy sluit vandag by die besoekers aan vir net meer as ‘n week. Die hoof van Sri Lanka se Krieketraad, Ashley de Silva, sê McKenzie sal noodsaaklike diepgaande insigte oor plaaslike toestande verskaf. Die eerste toets begin die 27ste op Kingsmead in Durban en die tweede een op 5 Desember op St George-park in Gqeberha.
# Rugby: Die gewese Walliese skrumskakel Mike Phillips wil hê hoofafrigter Warren Gatland moet afgedank word na die naweek se nederlaag teen Fidji; hulle tiende in ‘n ry. Die Nieu-Seelander het in Desember 2022 teruggekeer nadat hy Wallis van 2007 tot 2019 afgerig het. Phillips het sy 94 toetse vir Wallis van 2003 tot 2015 gespeel. Hy sê Gatland lag al die pad bank toe sonder om aanspreeklik gehou te word, en verdien om uitgeskop te word soos hy met talle goeie Walliese spelers gedoen het.
# En ons sluit af met gholf: Die Oostenrykse en Turkse Ope, asook die Nedbank-uitdaging in Suid-Afrika, is weer op die DP World-toer se program vir 2025. ʼn Minimum van 42 toernooie sal deur die jaar in 26 lande aangebied word. Die Europese toernooireeks keer die eerste keer sedert 2019 terug na Turkye en die eerste keer sedert 2021 in Oostenryk. DP World se uitvoerende hoof, Guy Kinnings, sê 2025 se program vier weereens die toer se ware globale aard.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….