Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons slaan af met gholf: Die Suid-Afrikaner Dean Burmester het sy tweede individuele LIV-gholftitel gewen nadat hy die Spanjaarde, Jon Rahm en Josele Ballester, in Chigaco op die eerste uitspeelputjie verslaan het. Burmester het sy aanvanklike voorsprong van twee houe verloor met drie agtereenvolgende brouhoue, maar uiteindelik op nege onder 204 klaargemaak. Daar was ook ‘n uitspeelstryd tussen spanne waar Burmester se Stinger-span met Torque afgereken het om die titel te buit. Burmester, wat prysgeld van 71-miljoen-rand in sy sak steek, sê die oorwinning is spesiaal:
Justin Rose van Engeland is intussen terug in die top-tien van die wêreldranglys na sy oorwinning op die St Jude-kampioenskap in Tennessee. Die 45-jarige het die Amerikaner JJ Spaun op die derde uitspeelputjie verslaan om sy 12de PGA-toernooititel te wen. Rose het met hierdie oorwinning ook sy plek in nog ‘n Ryderbeker-kompetisie verseker. Hy is nou negende op die wêreldranglys terwyl Spaun na die sesde plek opgeskuif het. Die Brit sê hy het ongelooflike gholf gespeel:
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus is vol vertroue dat sy span hul huiswerk gedoen het vir die Wallabies se Rugbykampioenskaps-toer in Suid-Afrika. Dit volg op ‘n intensiewe oefen- en kondisioneringskamp van twee weke in Johannesburg. Die Bokke sal die Wallabies Saterdag op Ellispark pak en weer volgende naweek in Kaapstad. Erasmus beklemtoon die belangrikheid van hul voorbereiding om die mededingendheid van die Wallabies, die All Blacks en die Pumas te ewenaar. Hy is tevrede met die werk wat die spelers ingesit het.
# Die mees ervare Springbok-vrouespeler, Nolusindiso Booi, sal intussen ʼn sterk groep van 32 lei op die Vroue-Wêreldbekertoernooi in Engeland. Die span spog met spelers wat altesaam 689 keer vir die Bokke uitgedraf het. Negentien het Wêreldbeker-ervaring, onder andere onderkaptein Babalwa Latsha, wat die span in 14 toetse aangevoer het. Suid-Afrika skop hul veldtog die 24ste in Northampton af teen die toernooi se nuweling, Brasilië, voor hul ander Groep D-wedstryde teen Italië en Frankryk. Die groep kom môre in Johannesburg bymekaar.
# En krieket: Australië het Suid-Afrika met 17 lopies geklop in die eerste van drie T20s in Darwin vir hulle negende agtereenvolgende oorwinning. Tim David het 83 aangeteken en ‘n sewende paaltjie-vennootskap van 59 met Ben Dwarshuis gedeel. Die gashere is vir 178 uitgeboul. Die 19-jarige Kwena Maphaka het beïndruk vir die Proteas en vier paaltjies geneem. Ryan Rickelton se 71 lopies het Suid-Afrika tot die laaste boulbeurt in die wedloop gehou, maar die besoekers kon nie die teiken haal nie. Die tweede T20 word môre ook in Darwin gespeel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….