Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die naweek se toetsuitslae het ‘n groot invloed gehad boaan die wêreldranglys. Suid-Afrika se terug as nommer een na gisteraand se oorwinning oor Skotland, met Nieu-Seeland nou tweede, gevolg deur Ierland, wat die boonste posisie moes prysgee nadat hulle teen die All Blacks verloor het. Frankryk bly vierde en Argentinië het opgeskuif na vyfde nadat hulle Italië geklop het, gevolg deur Skotland. Engeland het teruggesak na sewende na die nederlaag teen die Wallabies, wat opgeskuif het na agtste. Fiji is negende na hulle sege oor Wallis, en Italië tiende.
Die Springbok-vrouesewes het intussen hulle titel in die Afrika-vrouekampioenskap suksesvol verdedig toe hulle Kenia in die eindstryd in Ghana met 19-10 verslaan het. Met dié vasteland-sege kwalifiseer Suid-Afrika vir volgende jaar se Wêreldrugby-uitdaagreeks. Afrigter Renfred Dazel het sy spelers se poging geloof wat onder moeilike omstandighede by die Universiteit van Ghana se rugbystadion plaasgevind het. Hy sê hulle het die grondslag vir die res van die seisoen gelê:
# Vervolgens, krieket: Die Proteas het Indië met drie paaltjies verslaan in die tweede T20 in Gqeberha en die reeks van vier wedstryde is nou gelyk met een-elk. Die besoekers het eerste gekolf en 124 vir ses aangeteken met Hardik Pandya wat ʼn onoorwonne 39 behaal het. Tristan Stubbs se vennootskap van 42 lopies saam met Gerald Coetzee het Suid-Afrika gered nadat hulle op 66 vir ses gestruikel het, en daarmee Indië se elf agtereenvolgende seges beëindig. Die derde T20 vind Woensdag in Johannesburg plaas.
Krieket van elders: Kaptein Jos Buttler het 83 aangeteken om Engeland te help om die Wes-Indiese Eilande met sewe paaltjies te verslaan in die tweede T20 in Barbados. Dit gee hulle ‘n voorsprong van twee-nul in die reeks van vyf wedstryde. Die tuisspan het 158 vir agt aangeteken na kaptein Rovman Powell se 43. Buttler het daarna ‘n vennootskap van 129-lopies om die tweede paaltjie gedeel met Will Jacks, voor Liam Livingstone ‘n onoorwonne 23 geslaan het. Engeland het gewen met 31 balle oor. Die derde T20 word Donderdag in St Lucia gespeel.
# Ons sluit af met tennis: Die wêreld se nommer een, Jannik Sinner van Italië, en die Amerikaner Taylor Fritz het goed begin in die Ilie Nastase-groep van die ATP-jaareindtoernooi in Turyn. Sinner het Alex de Minaur van Australië 6-3, 6-4 geklop en sy perfekte rekord teen die sewende-gekeurde uitgebrei. Fritz het sy 50-ste oorwinning van die jaar behaal toe hy die Rus Daniil Medvedev 6-4, 6-3 verslaan het. Sinner, wat nou sewe agtereenvolgende toervlak-wedstryde gewen het, sê hy is tevrede met sy spel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….