Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met rugby: ‘n Volle naweek van toetsaksie wag op aanhangers. Ierland en Nieu-Seeland pak mekaar vanaand in Dublin in hul eerste ontmoeting sedert die All Blacks die Iere verlede jaar verslaan het in die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi. Engeland en Australië speel môre op Twickenham, gevolg deur die kragmeting tussen Italië en Argentinië in Udine. Frankryk verwelkom daarna vir Japan in Parys. Sondag speel Wallis in Cardiff teen Fidji, en die naweek word op ‘n hoogtepunt afgesluit met die wedstryd tussen die Springbokke en Skotland op Murrayfield.
Ierland se hoofafrigter, Andy Farrell, sê intussen toetse teen die All Blacks is altyd ekstra spesiaal en vanaand se kragmeting in Dublin gaan nie oor wraak vir verlede jaar se nederlaag teen Nieu-Seeland in die kwarteindronde van die Wêreldbekertoernooi nie. Hy beskryf die Kiwis as een van die beste spanne in die wêreld en sê dit is genoeg motivering. Ierland, wat tans boaan die wêreldranglys is, mik na hulle 20ste agtereenvolgende oorwinning in die Aviva-stadion. Farrell sê Nieu-Seeland is altyd dié span om te klop.
# Vervolgens, sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, is vol vertroue dat sy groep van 23 sukses sal behaal in die laaste twee kwalifiserende wedstryde vir die Afrikabekertoernooi. Die Suid-Afrikaners het agt punte en is tweede in Groep K. Hulle deelname aan volgende jaar se AFCON in Marokko hang af van hulle kragmetings met Uganda en Suid-Soedan. Sage Stephens is die eerste keer opgeroep terwyl Percy Tau uitgelaat is. Broos sê Tau kry nie genoeg wedstryd-blootstelling by Al Ahly nie:
# Ons kom nou by tennis: Die Wimbledon-kampioen, Barbora Krejcikova van die Tsjeggiese Republiek, het die Amerikaner Coco Gauff geklop en deurgedring na die halfeindronde van die WTA-jaareindtoernooi in Riaad, Saoedi-Arabië. Haar sege beteken die verdedigende kampioen, Iga Swiatek, is uitgeskakel al het sy die Rus, Daria Kasatkina, in haar laaste groepwedstryd verpletter. Krejcikova kom in die laaste vier teen Qinwen Zheng van China te staan terwyl Gauff en die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, sake uitspook. Krejcikova sê Zheng gaan ‘n gedugte teenstander wees:
# Ons sluit af met motorsport: Formule Een-renjaers het die beheerliggaam gevra om hulle soos grootmense te behandel. Dit volg nadat Red Bull se Nederlandse bestuurder, Max Verstappen, en Ferrari se renjaer, Charles Leclerc van Monaco, gestraf is oor kru taal. Die Grand Prix-bestuurdersvereniging beskryf in ‘n ope brief aan die FIA die verskil tussen vloekwoorde wat bedoel is om ander te beledig, en omgangstaal. Die organisasie sê ook die media hoef nie sy lede opdragte te gee oor onbelangrike sake soos die dra van juweliersware of onderklere nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….