Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-senter André Esterhuizen sê hulle maak gereed vir ‘n taai wedstryd wanneer hulle Sondag op Murrayfield in Edinburgh teen Skotland uitdraf. Die Bokke is weens diepte en beserings steeds onseker oor verskeie belangrike posisies. Afrigter Rassie Erasmus sal sy span môre aankondig. Esterhuizen sê hulle klein rustyd-voorsprong in verlede jaar se eerste Wêreldbeker-groepswedstryd in Frankryk wys hoe mededingend toetse teen Skotland kan wees:
Nog rugbynuus: Die Britse en Ierse Leeus gaan ‘n trui in ‘n donkerder rooi dra tydens volgende jaar se toer in Australië. Dit bevat ‘n patroon wat in die materiaal ingeweef is wat die samesmelting van vier nasies simboliseer. Die toer sal bestaan uit 11 wedstryde, insluitend drie toetse teen die Wallabies, van 20 Junie tot 2 Augustus. Die Leeus het in 2013 in Australië laas ‘n reeks gewen, gevolg deur reeksnederlae teen die All Blacks in 2017 en die Springbokke in 2021.
# Vervolgens, krieket: Suid-Afrika en Indië pak mekaar môre in die eerste van vier T20’s op Kingsmead in Durban. Dit sal ‘n herhaling wees van die Wêreldbeker-eindstryd vier maande gelede toe Indië met ‘n skamele sewe lopies gewen het. Die Proteas is sonder hulle drie beste boulers in die toernooi, Kagiso Rabada, Anrich Nortjé en Tabraiz Shamsi, en Indië toer sonder die meeste van sy voorste spelers, wat gereedmaak vir ‘n toetsreeks teen Australië. Die ander T20’s word gespeel in Gqeberha, Centurion en Johannesburg.
# Ons maak ‘n draai by padwedlope: Die Olimpiese gouemedaljewenner, Caster Semenya, maak Sondag haar Boxer Super Run-debuut in Tshwane. Haar grootste mededinger sal Glenrose Xaba wees wat onlangs die Kaapstadse marathon gewen en ʼn nuwe nasionale rekord opgestel het. Semenya glo die wedloop oor vyf-kilometer bied waardevolle geleenthede vir jong atlete, en die prysgeld van 147-duisend-rand is ook nie te versmaai nie. Boxer Superstores se bemarkingshoof, Lee-Ann Pillay, sê Semenya se betrokkenheid is ʼn inspirasie vir alle deelnemers.
# En ons sluit af met tennis: China se Olimpiese gouemedaljewenner, Qinwen Zheng, is deur na die halfeindronde van die WTA-jaareindtoernooi in Riaad, Saoedi-Arabië. Die 22-jarige speler het Jasmine Paolini van Italië afgeransel. Zheng is die jongste speler om met haar eerste verskyning die WTA-jaareindtoernooi se halfeindronde te haal, nadat Petra Kvitova dit in 2011 reggekry het. Intussen het Elena Rybakina van Kazakstan, wat reeds uitgeskakel is, die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka verras. Die speler van Belarus het ondanks die nederlaag steeds die rondomtalie-stadium as groepswenner afgesluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….