Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby is vandag eerste aan die beurt: Die hulpafrigter van die Springbok-vroue Sewesspan, Cecil Afrika, sê as die verdedigende kampioen is hulle uiters gemotiveerd om die naweek goed te vaar in die Afrika-vrouesewestoernooi in Akkra, Ghana. Suid-Afrika kom Saterdag in Groep A te staan teen Burkina Faso, Zimbabwe en Tunisië. Die toernooi dien as ‘n kwalifiseerder vir 2025 se Wêreldrugby-uitdaagtoernooi. Afrika sê ondanks die druk weet die spelers wat vereis word vir sukses:
Nog rugby: Die Engelse slot Jonny Hill gaan Sale Sharks se volgende drie Premierskap-wedstryde misloop nadat hy vir tien weke geskors is na ‘n onderonsie met ‘n toeskouer. Vier weke van die straf is opgeskort. Hill het die toeskouer aangerand na ‘n wedstryd teen Bath in Junie. ‘n Onafhanklike tugpaneel het sy skulderkenning aanvaar en afgewyk van die voorgeskrewe beginpunt van ‘n skorsing van 20-weke, as gevolg van buitengewone omstandighede en wesenlike versagting. Hill het sedert 2020 in 13 toetse vir Engeland gespeel, en sedert 2022 in 21 wedstryde vir Sale.
# Vervolgens, tennis: Aryna Sabalenka van Belarus sluit die eerste keer in haar loopbaan die jaar af as die wêreld se nommer een-vrouespeler. Die heersende kampioen van die Australiese en Amerikaanse Ope is die 16de vrou in WTA-geskiedenis om dit te vermag. Hierdie prestasie is bevestig toe die Amerikaner Coco Gauff die verdedigende kampioen van die WTA-jaareindtoernooi, Iga Swiatek van Pole, geklop het om die halfeindronde te haal in Riaad, Saoedi-Arabië. Sabalenka sê dit voel soos ʼn droom:
Die seisoen se agt beste mans-enkelspelers en dubbelspare gaan intussen meeding om algehele prysgeld van 265-miljoen-rand in die ATP-eindtoernooi wat Sondag in Turyn, Italië, begin. Die enkelspel-kampioen sal 85-miljoen-rand wen as hy die toernooi onoorwonne afsluit, en 39-miljoen-rand as hy ‘n wedstryd verloor het op pad na die eindstryd. Die agt spelers word in die rondomtale-ronde in twee groepe verdeel en die boonste twee in elke groep dring deur na die halfeindronde. Die eindstryd vind volgende Sondag plaas.
# Ons sluit af met motorsport: Die seisoen se laaste MotoGP-wedren gaan volgende naweek in Barcelona in Spanje plaasvind nadat dit verskuif is vanuit die vloedgeteisterde oostelike stad Valencia. Die dodetal het reeds tot minstens 217 gestyg en talle mense word nog vermis. Barcelona het vroeër die seisoen die Katalaanse Grand Prix aangebied. Die wedren, wat in eensgesindheid met die gemeenskap van Valencia gehou word, sal die kampioenskap beslis. Die plaaslike jaer Jorge Martin is bo-aan die punteleer en het ‘n voorsprong van 24-punte oor die verdedigende kampioen, Francesco Bagnaia van Italië.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….