Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby is vandag eerste: Die Springbokke het hulle voorbereidings vir dié week aangepas omdat die naweek se toets teen Skotland op Murrayfield eers Sondag plaasvind. Hulle het die afgelope Sondag in Edinburgh aangekom na ‘n week lange oefenkamp in Jersey en het gister die dag af gehad voor hulle vandag afrigting hervat. Die vaskopstut Wilco Louw sê die kamp het hulle die geleentheid gebied om as ʼn groep saam te werk en hulle is opgewonde oor die aanloop tot die kragmeting op Murrayfield. Hoofafrigter Rassie Erasmus sal sy wedstrydgroep na verwagting môre of Donderdag bekend maak.
# Die Internasionale Krieketraad se eendag-kampioenskap vir vroue is tot elf spanne uitgebrei toe Zimbabwe ook ingesluit is. Dit volg nadat Bangladesj en Ierland aangesluit het in aanloop tot volgende jaar Oktober se eendag-Wêreldbekertoernooi in Indië. Zimbabwe se insluiting beteken alle volle lede van die IKR is deel van die kampioenskap, behalwe Afganistan, wat nie ʼn vrouespan het nie. Met die uitbreiding van die vroue-kampioenskap sal elke land in ʼn driejaar-siklus teen vier spanne tuis speel en teen vier spanne weg.
# Nou tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, is deur na die halfeindronde van die WTA-jaareindtoernooi in Riaad, Saoedi-Arabië. Die speler van Belarus het die Italianer, Jasmine Paolini, in die Pers Groep geklop. Die Olimpiese kampioen van China, Zheng Qinwen, ding mee vir ʼn plek in die halfeindronde nadat sy Elena Rybakina van Kazakstan verslaan het. In die Oranje Groep takel die Amerikaner, Jessica Pegula, en Barbora Krejcikova van die Tsjeggiese Republiek mekaar vandag voordat die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, en die Amerikaner Coco Gauff sake uitspook.
# Ons kom by padwedlope: Die Sydney-marathon is op die lys van Wêreldmarathon Majors gevoeg en is saam met ses ander deel van die top internasionale langafstandswedlope. Die ander is Londen, New York, Boston, Tokio, Berlyn en Chicago. Die insluiting van Sydney volg na ʼn program van drie jaar om die geleentheid te verbeter. Die uitvoerende hoof van World Marathon Majors, Dawna Stone, sê die organisering van Sydney se wedloop was uiters indrukwekkend. Die Kaapstadse marathon word tans oorweeg vir byvoeging tot die majors teen 2026.
# Ons sluit af met atletiek: Wêreld-atletiek het die finaliste aangekondig in elkeen van sy ses kategorieë vir Atleet van die Jaar. Botswana se Olimpiese kampioen in die 200-meter, Letsile Tebogo, is in die mans se baanatleet-kategorie benoem saam met Jakob Ingebrigtsen van Noorweë. Benoemings in die vrouekategorie sluit in die Olimpiese gouemedaljewenner in die 100-meter, Julien Alfred van Sint Lucia, en die Amerikaanse Olimpiese kampioen in die 400-meter-hekkies, Sydney McLaughlin-Levrone. Die wêreldrekordhouer in die marathon, Ruth Chepngetich van Kenia, ding mee in die kategorie vir buite-stadion-atleet van die jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….