Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die All Blacks het twee van hulle staatmakers verloor voor Vrydag se toets teen Ierland in Dublin. Die losskakel Beauden Barrett en die haker Codie Taylor het albei harsingskudding opgedoen in Saterdag se naelskraapse oorwinning van 24-22 oor Engeland op Twickenham. Hoofafrigter Scott Robertson het hulle vervang met Harry Plummer en Brodie McAlister, wat tans saam met die All Blacks-vyftiental deur die Verenigde Koninkryk toer. Die kragmeting op die Aviva-stadion word as ‘n wraak-ontmoeting beskou vir Ierland wat verlede jaar in die Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Nieu-Seeland verloor het.
Die Engelse stut Joe Marler het intussen uitgetree uit internasionale rugby. Dit is die tweede keer dat hy uittree nadat hy 2018 se besluit om van toetsrugby weg te stap, omgekeer het. Die 34-jarige, wat sy debuut vir Engeland in 2012 gemaak het, het in 95 wedstryde uitgedraf. Hy het in 2015, ’19 en ’23 se Wêreldbekertoernooie gespeel en was deel van drie Sesnasies-wenspanne in 2016, ’17 en ’20. Marler sê dit is tyd dat hy aanbeweeg:
# Vervolgens, motorsport: Max Verstappen van Red Bull het ‘n verstommende terugkeer uit die 17de wegspringplek gemaak om die Sao Paulo Grand Prix te wen. Esteban Ocon en Pierre Gasly was onderskeidelik tweede en derde om twee podiumplekke vir Alpine te verseker. Verstappen se wêreldkampioenskap-teenstander, Lando Norris van McLaren, wat in die eerste plek weggespring het, het sesde geëindig. Hy is nou 62 punte agter die Nederlander met 86 punte beskikbaar in die laaste drie wedrenne. Verstappen sê dis ʼn emosionele oorwinning:
Nog motorsport: Die verdedigende wêreldkampioen, Francesco Bagnaia, kan steeds sy MotoGP-titel behou nadat hy die Maleisiese Grand Prix gewen het. Die Italianer het drie sekondes voor sy kampioenskapsmededinger, Jorge Martin, geëindig, met Enea Bastianini derde. Brad Binder van Suid-Afrika was in ‘n ongeluk betrokke en kon nie klaarmaak nie. Die kampioenskap sal later die maand in die laaste wedren van die seisoen beslis word, met Martin wat tans met 24 punte voorloop. Bagnaia sê hy geniet die mededinging om die titel:
# Ons sluit af met padwedlope: Abdi Nageeye van Nederland het die mans-afdeling van die New Yorkse marathon gewen. Die 35-jarige atleet het sy eerste groot wêreldtitel in twee ure, sewe minute en 39 sekondes gewen, ses sekondes voor 2022 se manskampioen, Evans Chebet van Kenia. Albert Korir, ook van Kenia, was derde. Die eerste drie vroue oor die wenstreep was al drie van Kenia. Sheila Chepkirui was eerste in twee uur, 24 minute en 35 sekondes. Sy was 14 sekondes vinniger as die verdedigende kampioen, Hellen Obiri, en Vivian Cheruiyot.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….