Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 1 November 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Proteas is op dreef om die Wêreld-toetskampioenskap se eindstryd te haal nadat hulle Bangladesj in die tweede toets in Chattogram met ‘n beurt en 273 lopies verpletter het. Suid-Afrika het die reeks twee-nul gewen. Die Proteas is tans vierde in die toetskampioenskap, maar as hulle tussen nou en Januarie hulle vier tuiswedstryde teen Sri Lanka en Pakistan kan wen, kwalifiseer hulle vir Junie se eindwedstryd op Lord’s. Kaptein Aiden Markram sê dis wonderlik om in die wedloop tot die eindstryd te wees:
# Vervolgens, netbal: Suid-Afrika het ʼn gemaklike 68-31-sege oor Malawi behaal in die eerste van drie toetse in Johannesburg. Die besoekers het in die eerste kwart 11 doele behaal teenoor die gasvroue se 16. Die Suid-Afrikaners het teen die einde van die tweede kwart die gaping tot 48-27 vergroot. Die Proteas het hulle oorheersing in die derde en vierde kwarte voortgesit om hul oorwinning te verseker. Die afrigter, Jenny van Dyk, sê sy is tevrede met haar span se vertoning:
# Ons loer in by rugby: Die All Blacks speel môre in Londen teen Engeland met hulle sterkste moontlike span. Hoofafrigter Scott Robertson het na die toets verlede naweek teen Japan in Yokohama verskeie senior spelers ingesluit met slegs vier spelers wat in die opdrafspan behou is. Die Kiwi’s het Engeland twee keer in Julie tuis verslaan maar volgens Robertson is vier maande ʼn lang tyd in rugby. Hy sê Twickenham is ʼn ikoniese stadion en die meelewing van die skare is soos min ander.
Nog rugby: Drie gebore Suid-Afrikaanse spelers is in Skotland se wedstrydgroep ingesluit vir môre se kragmeting teen Fidji op Murrayfield. Loskopstut Pierre Schoeman en linkervleuel Duhan van der Merwe begin albei en haker Dylan Richardson sal waarskynlik sy vierde toets van die bank af speel. Intussen sal Darcy Graham die eerste keer in meer as ’n jaar vir Skotland speel nadat hy in die opdrafspan ingesluit is. Senter Sione Tuipulotu sal Skotland die eerste keer aanvoer sedert hy as kaptein aangewys is.
# En, ons sluit af met tennis: Die Fransman Ugo Humbert het die wêreld se nommer twee, Carlos Alcaraz uit die Paryse Meesters geboender om die kwarteindronde te haal. Humbert, wat sy derde ATP Tour-titel die seisoen jaag, het die Spanjaard geklop. Die wêreld se nommer drie, Alexander Zverev het Arthur Fils van Frankryk in die derde ronde verslaan om sy 31ste kwarteindronde van die ATP Masters 1000 te bereik en die sesde een vanjaar. Daar was ook oorwinnings vir Grigor Dimitrov van Bulgarye, Stefanos Tsitsipas van Griekeland en Alex de Minaur van Australië.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….