Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket is eerste aan die beurt: Bangladesj se draaibouler, Taijul Islam, sê sy span is vasberade om die reeks teen Suid-Afrika gelykop te maak met ‘n oorwinning in die tweede en laaste toets wat vanoggend in Chattogram begin het. Bangladesj het die eerste toets met sewe paaltjies verloor. Die Suid-Afrikaners hoop om skoonskip te maak en op te skuif op die Wêreldtoetskampioenskap se punteleer. Die Proteas is tans vyfde en Bangladesh agtste. Suid-Afrika kolf eerste en het laatmiddag gestaan op 237 vir een, met Tony de Zorzi onoorwonne op 106.
# Tennis is volgende: Carlos Alcaraz van Spanje sê die rekord-prysgeld in die Six Kings Slam-toernooi in Saudi-Arabië vroeër die maand het hom gelok. Die Italianer Janik Sinner het aantygings verwerp dat hy aan die vertoontoernooi deelgeneem het vir finansiële gewin, en beklemtoon hy is na Riaad vir die sport-uitdaging. Alcaraz het egter erken dat die finansiële aspek ‘n rol gepeel het, omdat hy binne vier dae meer as 26-miljoen rand verdien het. Hy sê hoewel hy meestal vir die liefde van die spel speel, moet hy ook aan geld dink.
# Nou, motorsport: McLaren glo Max Verstappen se straf in die Mexikaanse Grand Prix moes swaarder gewees het. Die Nederlander is gestraf omdat hy in twee voorvalle met Lando Norris te aggressief bestuur het. Hy het die Brit van die baan gedruk soos hy ook ‘n week vroeër onder soortgelyke omstandighede in die Amerikaanse Grand Prix in Austin gedoen het. McLaren se spanhoof, Zak Brown, het die wedrenbeamptes geloof wat Verstappen met 20 sekondes gestraf het, maar voeg by dis waarskynlik nie genoeg nie. Die driemalige wêreldkampioen het sesde geëindig.
# Ons sluit af met sokker: Manchester City en Spanje se middelveldspeler, Rodri, het die Ballon d’Or-toekenning vir mans ontvang nadat hy ʼn vierde agtereenvolgende Premierliga-titel en Euro 2024 gewen het. Die besluit was ʼn verrassing aangesien Vinicius Junior van Real Madrid as die gunsteling beskou is. Die Spaanse klub het ure voor die seremonie in Parys aangekondig sy verteenwoordigers gaan nie die geleentheid bywoon nie. Barcelona en Spanje se ster, Aitana Bonmati, het haar tweede agtereenvolgende Ballon d’Or vir vroue opgeraap. Real Madrid is aangewys as die beste manspan en Barcelona as die beste vrouespan.
Manchester United het intussen onmiddellik met die soektog na ‘n nuwe hoofafrigter begin nadat hy Erik ten Hag gister afgedank het. Dit volg na die swakste begin in die Premierliga in 35 jaar en hulle is tans in die 14de plek op die punteleer. Die legendariese voorspeler en hulpafrigter, mede-Nederlander Ruud van Nistelrooy, sal intussen in Ten Hag se pos waarneem en is ʼn aanspraakmaker om hom op te volg. Ander moontlike gunstelinge is die voormalige bestuurder van Chelsea, Graham Potter van Engeland, en die bestuurder van Brentford, Thomas Frank van Denemarke.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….