Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 28 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby is eerste aan die beurt: Die Wallabies speel volgende jaar ‘n Bledisloebeker-toets teen die All Blacks in Perth, en die Pumas in Townsville en Sydney in die Rugbykampioenskap. Die toets teen Nieu-Seeland op 4 Oktober sal net die derde Bledisloebeker-toets wees wat in Perth gespeel word, en Townsville bied op 6 September die eerste keer in vier jaar ‘n toets aan. Rugby Australië sê hulle het besluit om volgende jaar in Perth teen die All Blacks te speel na dié jaar se oorweldigende belangstelling in die toets teen die Springbokke.
Nog rugby: Engeland se hoofafrigter, Steve Borthwick, het die veteraan-losskakel George Ford, Alex Coles en Ted Hill opgeroep vir die groep van 36 spelers voor Saterdag se toets teen Nieu-Seeland op Twickenham. Ford moes sy fiksheid bewys nadat hy ‘n dyspierbesering opgedoen het terwyl hy vir Sale gespeel het. Ollie Chessum is weens ‘n kniebesering nie beskikbaar nie, terwyl Charlie Ewels tans gereed maak om terug te keer. Die wedstryd is die eerste van vier kragmetings vir Engeland, wat ook te staan kom teen Australië, Suid-Afrika en Japan.
# Vervolgens, krieket: Die voormalige Protea-speler en -afrigter Gary Kirsten het bedank as Pakistan se beperkte boulbeurt-hoofafrigter. Die Pakistanse Krieketraad het hom in April aangestel op ‘n tweejaar-kontrak. Kirsten se groot taak was die mans T20 Wêreldbekertoernooi in die Wes-Indiese Eilande en Amerika, waar Pakistan vroeg uitgeskakel is nadat hulle verloor het teen Indië en Amerika. Toetsafrigter Jason Gillespie neem Kirsten se rol oor vir die toer deur Australië, wat volgende Maandag begin.
Nog krieket: Die Lions het hul tweede agtereenvolgende T20-uitdaagtitel verower deur die Titans met agt paaltjies te klop op die Wanderers in Johannesburg. Lutho Sipamla het vier paaltjies laat kantel en die Titans is vir 119 uitgeboul. Rassie van der Dussen en Connor Esterhuizen het daarna ‘n onoorwonne vennootskap van 98 lopies om die derde paaltjie opgestel en die Lions het 124 vir twee bereik met 29 balle oor. Die Lions het nou ses titels.
# En ons sluit af met tennis: Jasmine Paolini van Italië het verbeter tot haar beste posisie nog van vierde op die jongste wêreldranglys. Die Amerikaner Danielle Collins, die Rus Anna Kalinskaya en die Spanjaard Paula Badosa het almal hulle posisies verbeter tot onderskeidelik tiende, 11de en 12de. Aryna Sabalenka van Belarus is steeds nommer een, gevolg deur Iga Swiatek van Pole en die Amerikaner Coco Gauff. Elena Rybakina van Kazakstan is vyfde, gevolg deur die Amerikaner Jessica Pegula, Qinwen Zheng van China, Emma Navarro van Amerika en die Rus Daria Kasatkina.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….