Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met krieket: Kagiso Rabada en Kyle Verreynne was Suid-Afrika se helde in hulle oorwinning met sewe paaltjies oor Bangladesj in die eerste toets in Mirpur. Verreyne het die Proteas in hulle eerste beurt gelei tot ‘n voorsprong van 202 lopies met ‘n blitsige honderdtal nadat die gashere uitgeboul is vir net 106. Rabada het toe ses paaltjies platgetrek en Bangladesj vir 307 help uitboul, wat aan die besoekers ‘n wenteiken van 106 gestel het. Suid-Afrika het dit bereik vir die verlies van drie paaltjies. Die tweede toets begin Dinsdag in Chattogram.
Krieket van elders: Zimbabwe het die wêreldrekord vir die hoogste telling in ‘n T20- internasionale wedstryd vir mans verpletter toe hulle Gambië met 290-lopies verslaan het in hulle Wêreldbeker-kwalifiseerder in Kenia. Zimbabwe het 344 vir vier gemoker en daarmee die rekord van 314 vir drie verbeter wat Nepal in September verlede jaar teen Mongolië opgestel het. Zimbabwe se kaptein, Sikandar Raza, het ‘n onoorwonne 133 van net 43 balle bygedra. Die 17de boulbeurt het ‘n reuse-35 lopies opgelewer. Zimbabwe het altesaam 27 sesse en 30 viere geslaan en Gambië daarna uitgeboul vir ‘n skamele 54.
# Vervolgens, rugby: Johan Grobbelaar en Wilco Louw is opgeroep om by die Springbok-groep aan te sluit vir volgende maand se toer. Dit volg nadat die voorspeler Jan-Hendrik Wessels weens ‘n besering onttrek het. Hy het verlede Saterdag sy enkel beseer in die Bulle se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting met Scarlets. Grobbelaar en Louw se insluiting vergroot die groep tot 35 spelers, bestaande uit 19 voor- en 16 agterspelers. Afrigter Rassie Erasmus sê hy is opgewonde om te sien hoe die twee presteer teen gehalte-teenstanders in Skotland, Engeland en Wallis.
Die Bulle kry intussen hierdie naweek weer te doen met die Ierse skeidsregter, Eoghan Cross, dieselfde man wat die senter David Kriel met ʼn rooikaart die trekpas gegee het in die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd twee weke gelede teen Ospreys. Die kaart is later geskrap. Die span van Pretoria het ten spyte van die ontwrigting gewen, maar ʼn soortgelyke voorval – hierdie keer teen die Springbokhaker Johan Grobbelaar ʼn week later teen Scarlets – het gelei tot ʼn nederlaag met een punt. Die Bulle speel môreaand in Treviso teen Benetton.
# Ons sluit af met tennis: Aryna Sabalenka kan die voorste posisie op die wêreldranglys vir die jaar reeds in die groepsafdeling van die WTA-eindtoernooi in Saoedi-Arabië beklink. Die Belarus moet die eerste drie rondomtalie-wedstryde wen om seker te maak Iga Swiatek van Pole steek haar nie verby nie. Sabalenka het Swiatek vroeër die week in die eerste posisie vervang nadat Swiatek weens uitputting en ‘n vervanging van haar afrigter besluit het om nie aan die Asiese skof van die WTA-toer deel te neem nie. Die eindtoernooi begin op 2 November in Rijaad.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….