Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby is eerste aan die beurt: Die Springbok-vroue gaan teen Brasilië speel in hulle eerste Groep D-wedstryd in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Engeland. Die kragmeting in Northampton op 24 Augustus word gevolg deur groepswedstryde teen Italië in York en Frankryk, ook in Northampton. Die gasvroue pak Amerika op 22 Augustus in die openingswedstryd in Sunderland naby Newcastle, en die verdedigende kampioen, Nieu-Seeland, speel twee dae later in York teen Spanje. Die eindstryd vind op 27 September in Londen plaas.
Nog rugby: Die All Blacks het ‘n nuwe kaptein vir Saterdag se toets teen Japan. Die slot Patrick Tuipulotu sal die span aanvoer terwyl die gereelde kaptein, Scott Barrett, nie na Yokohama reis nie. Damian McKenzie vervang Beauden Barret op losskakel en die skrumskakel, Cam Roigard, speel die eerste keer vanjaar vir die span. Die gewese kaptein, Sam Cane, begin as losvoorspeler in sy 101ste toets. Nieu-Seeland se jaareindtoer sluit ook toetse teen Engeland, Ierland, Frankryk en Italië in.
# Vervolgens krieket: Die Lions het die Titans met sewe paaltjies geklop om deur te dring na Sondag se eindstryd van die T20-uitdaagtoernooi. Die Titans is uitgeboul vir 115 nadat Nqaba Peter vier paaltjies geneem het. Reeza Hendricks en Rassie van der Dussen het daarna ‘n tweedepaaltjie-vennootskap van 92 lopies gebou en die Lions het maklik gewen. Vandag pak North West Dragons en Westelike Provinsie mekaar in ʼn uitspeelwedstryd. Die wenner speel Vrydag teen die Titans in die tweede kwalifiserende wedstryd en die wenner dring deur na die eindstryd.
Nog krieket: Die Suid-Afrikaans-gebore Nieu-Seelander, Chad Bowes, het die wêreldrekord verbeter vir die vinnigste dubbele honderdtal in Lys A-krieket toe hy 200 van net 103 balle aangeteken het. Die kolwer van Canterbury het die prestasie behaal gedurende ʼn wedstryd teen Otago in Christchurch. Hy het daarmee die vorige rekord verbeter van die Suid-Australiese kolwer, Travis Head, teen Queensland in 2021. Bowes is uitgehaal vir 205 van 110 balle, met sewe sesse en 27 viere. Die 32-jarige is gedurende sy kolfbeurt gereeld behandel vir ontwatering en ʼn seer rug.
# Ons sluit af met tennis: Iga Swiatek van Pole het bevestig sy gaan volgende maand in Málaga, Spanje, aan die Billie Jean King-bekertoernooi deelneem. Sy sal ook van 2 November in Riaad, Saoedi-Arabië, in die WTA-eindtoernooi speel. Dit sal haar eerste toernooi wees sedert die plaaslike speler Jessica Pegula haar in Augustus in die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope uitgeskakel het. Swiatek het daarna aan die WTA-toer se Asiese skof onttrek weens uitputting. Dit het veroorsaak dat sy die boonste plek op die wêreldranglys aan Aryna Sabalenka van Belarus moes afstaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….