Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieketnuus: Die kaptein van die Proteas, Laura Wolvaardt, erken Nieu-Seeland was beter as hulle in gister se eindstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi vir vroue in Dubai. Die Kiwi’s het met 32 lopies gewen, en Suid-Afrika ‘n tweede agtereenvolgende loesing in ‘n eindstryd toegedien. Nieu-Seeland het 158 vir vyf in hulle 20 boulbeurte aangeteken en die Proteas daarna beperk tot 126 vir nege. Wolvaardt sê hulle het nie hulle beste krieket gespeel teen ‘n teenstander van gehalte nie:
Nou manskrieket: Suid-Afrika het Bangladesj vir slegs 106 uitgeboul aan die begin van die eerste toets in Mirpur. Die gashere het die loot gewen en besluit om eerste te kolf, maar hulle eerste paaltjie het gekantel met slegs ses lopies op die telbord. Kagiso Rabada, Wiaan Mulder en Keshav Maharaj het elkeen drie paaltjies geneem en die hele span was terug in die pawiljoen in minder as 41 boulbeurte.
Rabada het vanoggend die derde vinnigste Suid-Afrikaner naas Dale Steyn en Allan Donald geword om 300 toetspaaltjies te laat kantel. Die 29-jarige speler het ook die vinnigste bouler geword wat 300 toetspaaltjies plattrek volgens die aantal balle geboul. Hy het dié sukses behaal in 11-duisend-817 aflewerings.
# Vervolgens, gholf: Die Suid-Afrikaner Robin Williams het sy Fortress-uitnodigingstitel op die Glendower-gholfklub in Gauteng suksesvol verdedig. Hy het met drie houe gemaklik gewen ná ‘n vyf-onder 67 om op 22 onder baansyfer klaar te maak. Daniel van Tonder was tweede op 19 onder baansyfer en Yurav Premlall en Keenan Davidse gesamentlik derde op 15 onder baansyfer. Williams sê hy het net probeer fokus op wat verlede jaar gewerk het en nie aan die voorloperbord gedink nie:
# Nuus oor motorsport: Charles Leclerc het die Amerikaanse Grand Prix gewen en sy spanmaat van Ferrari, Carlos Sainz, was tweede. Die McLaren-renjaer Lando Norris het die derde plek afgestaan aan sy teenstander, Max Verstappen van Red Bull, nadat hy met vyf sekondes gestraf is omdat hy buite die baanbeperking verbygesteek het. Norris was vierde en sy spanmaat Oscar Piastri vyfde. Verstappen het sy voorsprong op die bestuurders-punteleer tot 57 punte vergroot met vyf wedrenne wat oorbly. Leclerc sê dit was vir hom ʼn gewone wedren:
# Ons sluit af met tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Naomi Osaka, se seisoen het tot ‘n einde gekom. Sy het weens ‘n besering onttrek aan volgende maand se Billie Jean Kingbeker-eindtoernooi in Spanje. Die Japannese voormalige wêreld nommer een het dié maand ‘n rugbesering opgedoen tydens die Chinese Ope, voor sy die Japanse Ope en die Pan-Pasifiese-toernooi oorgeslaan het. Osaka is tans 56ste op die ranglys nadat sy dié seisoen teruggekeer het van ‘n swangerskapsonderbreking. Sy hoop om betyds reg te wees vir die ASB Classic- toernooi in Auckland einde Desember.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….