Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Suid-Afrika het ‘n kragdadige vertoning gelewer om die verdedigende kampioen, Australië, in Dubai met agt paaltjies te klop, en die Vroue T20 Wêreldbeker-eindstryd te haal. Australië het 134 vir vier aangeteken. Anneke Bosch het daarna ‘n onoorwonne 74 gemoker, terwyl kaptein Laura Wolvaardt 42 bygevoeg het in ‘n tweedepaaltjie-vennootskap van 96 lopies. Die Proteas het die teiken bereik met 16 balle oor. Bosch sê om Australië die eerste keer in ‘n T20 Wêreldbekertoernooi te verslaan, is ongelooflik:
Nog krieket: Die Dolphins verwelkom môre die plaaslike held, David Miller, terug vir hulle laaste tuiswedstryd in die T20-uitdaagreeks teen die Boland op Kingsmead in Durban. Miller keer terug na sy onlangse skof vir Barbados Royals in die Karibiese Premierliga. Volgens die 35-jarige is hy gretig om weer vir sy tuisspan te speel. Die Dolphins het hulle laaste twee kragmetings ingepalm, insluitend ‘n goeie oorwinning oor die Knights Woensdagaand in Bloemfontein, en het nog ʼn buitekans om die halfeindronde te haal.
# Nou rugby: Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, sê hy is reg bewys toe die senter David Kriel se rooikaart teruggetrek is nadat dit hom opgelê is in die Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen Ospreys. Skeidsregter Eoghan Cross het hom afgestuur omdat hy sy arm uitgesteek het om ‘n verdediger te probeer afweer, maar die kompetisie se tugkomitee het bevind die rooikaart was nie geregverdig nie, en het dit gekanselleer. White het die URK en sy tugproses geloof, maar sê die besluit is nie kritiek op die wedstrydbeamptes nie.
Nog rugby: Die Springbokvroue is in Groep D saam met Frankryk, Italië en Brasilië in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Engeland. Suid-Afrika het in die eerste wedstryd van die vorige toernooi in Auckland teen Frankryk gespeel, en verlede naweek in die eindstryd van die Vroue-15 in Kaapstad teen Italië. Hulle het egter nog nooit in ʼn toets teen Brasilië uitgedraf nie. Engeland as gasvrouland is saam met Australië, Amerika en Samoa, terwyl die verdedigende kampioen, Nieu-Seeland, teen Ierland, Japan en Spanje te staan kom.
# En ten slotte, tennis: Die Serwiër, Novak Djokovic, speel môre die laaste keer teen die Spanjaard, Rafael Nadal, in die uitspeelwedstryd vir derde plek in die Six Kings Slam-vertoontoernooi in Saoedi-Arabië. Djokovic moes met 6-2, 6-7, 6-4 die knie buig teen die Italianer Jannik Sinner, terwyl Nadal, wat ná volgende maand se Davisbeker-eindtoernooi in Málaga uittree, 6-3, 6-3 teen sy landgenoot, Carlos Alcaraz, verloor het. Djokovic en Nadal het 60 keer ontmoet op die ATP-toer, insluitend Grand Slams, met die Serwiër wat 31 gewen het teenoor Nadal se 29. Djokovic spog met 24 Grand Slam-titels teenoor Nadal se 22.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….