Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met krieket: Suid-Afrika is deur na die halfeindronde van die Vroue T20-Wêreldbekertoernooi nadat die Wes-Indiese Eilande Engeland in hul laaste Groep B-wedstryd in Dubai uitgskakel het. Engeland het 141 vir sewe in hul 20 boulbeurte behaal. Die Windies het die teiken bereik met die hulp van kaptein Hayley Matthews, wat 50 aangeteken het in haar 100ste T20-internasionale wedstryd, en Qiana Joseph met 52. Die Windies eindig daarmee bo-aan Groep B en speel in die halfeindronde teen Nieu-Seeland, terwyl Suid-Afrika die verdedigende kampioen, Australië, sal pak.
Die Protea-speler Aiden Markram sê intussen om kaptein van die toetsspan te wees is ‘n droom wat bewaarheid word. Die witbalkaptein sal Suid-Afrika in die eerste toets teen Bangladesj in Mirpur aanvoer wat die 21ste begin. Die beseerde kaptein, Temba Bavuma, het gister saam met die Proteas na Bangladesj gereis en hoop om betyds fiks te wees vir die tweede toets in Chattagram vanaf die 29ste. Markram sê hy droom al van kindsbeen af om Suid-Afrika aan te voer en sal steun op sy ervaring in die korter formate.
# Vervolgens, sokker: Suid-Afrika is steeds tweede in Groep K ná Uganda nadat hulle kwalifiserende wedstryd vir 2025 se Afrikabekertoernooi teen die Kongo in Brazzaville met een elk gelykop geëindig het. Elias Mokwana van Bafana Bafana se doel in die 33ste minuut is uitgekanselleer deur Mons Bassouamina se doel teen rustyd. Suid-Afrika moet in November een van sy oorblywende twee kwalifiserende wedstryde teen Uganda en Suid-Soedan wen om sy plek in die toernooi te bespreek.
Nog sokkernuus: Die voormalige afrigter van Chelsea, Thomas Tuchel, is vanaf 1 Januarie volgende jaar aangestel as Engeland se nuwe bestuurder. Die 51-jarge volg Gareth Southgate op wat na die Europese Kampioenskap in Julie bedank het toe Engeland in die eindstryd 2-1 teen Spanje verloor het. Die Duitser is die derde persoon van buite Engeland in die pos na Sven-Goran Eriksson van Swede en Fabio Capello van Italië. Sy hulpafrigter is die internasionaal-gerekende Engelse afrigter, Anthony Barry.
# Ons sluit vandag af met rugby: Die All Blacks moes weens beserings drie veranderings aanbring aan hulle groep vir die jaareind-toer, waar hulle te staan kom teen Japan, Engeland, Ierland, Frankryk en Italië. Die losvoorspelers Ethan Blackadder, Luke Jacobson en Dalton Papali’I is almal beseer. Die nuwelingflank Peter Lakai en Waikato Chiefs se slot, Josh Lord, is gevoeg by die groep wat reeds afgeskaal is van 36 tot 35 spelers. Die All Blacks se afrigter, Scott Robertson, sê die beserings bied geleenthede vir ‘n paar ander spelers:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….