Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met rugby: SA Rugby se voorgestelde privaat aandelebelang-ooreenkoms van 1,3-miljard-rand met die Ackerley Sports Group van Amerika word glo sterk teengestaan. Die ooreenkoms behels dat Saru ‘n 20-persent belang van sy kommersiële sakebelange aan ASG verkoop. Volgens News24 het sewe van Saru se 14 lid-unies ‘n brief onderteken wat die ooreenkoms teenstaan en oefen druk uit vir die uitstel van Donderdag se stemming. Hulle vra ook dat ‘n alternatiewe voorstel binne drie maande voorgelê moet word. Vyf-en-sewentig persent van die unies moet die ooreenkoms steun voordat dit kan slaag.
Ander rugby: Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, sê hulle gaan die rooikaart laat probeer herroep wat die senter David Kriel in die Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Ospreys in Swansea gekry het. Die Pretoriase span het 29-19 gewen ten spyte van ‘n geelkaart aan die Springbok-flank Elrigh Louw wat hulle het in die laaste tien minute met net 13 spelers gelaat het. Skeidsregter Eoghan Cross het Kriel se afstamp aanvanklik aanvaar, maar na die reaksie van die skare is daar weer gekyk en ʼn rooikaart toegeken. White het sy spelers geprys dat hulle nogtans gewen het.
# Krieket: Die Protea-vroue se lot is vandag in die hande van Engeland, wat die Windies in ‘n Groep B-wedstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi pak. Engeland en Suid-Afrika is tans in die twee kwalifiseringsposisies vir die halfeindronde en die Windies derde, maar ‘n oorwinning vir die eilandbewoners sal Suid-Afrika uitskakel weens die Windies se beter netto-lopietempo. As Engeland wen, dring hulle en die Proteas deur. Bangladesj en Skotland is reeds in die groep uitgeskakel.
# Ons maak ‘n draai by sokker: Bafana Bafana pak die Kongo vanaand in Brazzaville in die tweede ronde van hulle Afrikabeker-kwalifiseerder. Suid-Afrika se afrigter, Hugo Broos, is bekommerd oor die toestand van die sintetiese veld. Bafana het Kongo 5-nul verpletter in Vrydag se eersteronde-wedstryd in Gqeberha, en het nog net drie punte nodig om te kwalifiseer vir volgende jaar se toernooi in Marokko. ‘n Oorwinning vandag sal hulle laat deurdring. Broos sê hulle het al onsmaaklike ondervindings gehad met swak sintetiese velde.
# En ons sluit af met padwedlope: Die organiseerders van die Kaapstadse marathon sê vanjaar se wedloop gaan een van die opwindendste in die geleentheid se geskiedenis wees. ʼn Rekordgetal van 21-duisend deelnemers word verwag. Verlede jaar se wenners, die Ethiopiërs Tsige Haileslase en Adane Kebede Gebre, keer die naweek terug om hulle titels te verdedig. Die wedloopdirekteur, Barry van Blerk, sê die wedloop gaan spog met die beste marathon-atlete ooit op Afrika-bodem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….