Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons slaan af met gholf: Twee sterk spanne is gekies om Suid-Afrika in Oktober te verteenwoordig op die Wêreld-amateurkampioenskap in Singapoer. Megan Streicher, Bobbi Brown en die nuweling Kyra van Kan sal probeer om die vroue se Espirito Santo-trofee te wen waarmee Suid-Afrika in 2006 weggestap het. Die land se voorste amateur, Christiaan Maas, sal die derde keer meeding vir die mans se Eisenhower-trofee. Die nuwelinge Dan Bennett en Charl Barnard sluit ook by hom aan. GholfRSA se uitvoerende hoof, Grant Hepburn, het die diepte van talent in die nasionale spanne geprys.
# Nou rugby: Die flank van die Springbok-vrouespan, Lusanda Dumke, gaan ‘n blaaskans neem om gesondheidsredes. Die 28-jarige het 33 toetse gespeel en die span drie keer aangevoer. Sy het die Bulle se Daisies ook hierdie seisoen na hulle derde agtereenvolgende Vroue Premierafdeling-titel gelei. Die Bok-vroue se prestasie-afrigter, Swys de Bruin, sê Dumke se afwesigheid sal wel ‘n uitwerking op die span hê, maar die spelers wat aan die Wêreldbekertoernooi gaan deelneem, sal besef dis ‘n voorreg om fiks en sterk te wees en vir jou land te speel.
Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het intussen ‘n groep van 35 spelers aangekondig vir die twee Rugbykampioenskaps-toetse teen die Springbokke in Suid-Afrika. Tane Edmed en Lukhan Salakaia-Loto is twee van die nuwelinge in die groep. Nic White het sy uittrede tydelik uitgestel om die gereelde skrumskakel Jake Gordon te vervang, wat beseer is. Schmidt erken dit gaan moeilik wees om die Bokke op twee agtereenvolgende naweke tuis te pak. Die eerste wedstryd is die 16de in Johannesburg en die tweede ‘n week later in Kaapstad.
# En krieket: Die veelsydige Protea-speler Wiaan Mulder is saam met die kapteins van Engeland en Indië, Ben Stokes en Shubman Gill, benoem as die Internasionale Krieketraad se Speler van die Maand vir Julie. Mulder het ‘n onoorwonne 367 gemoker in die tweede toets teen Zimbabwe, wat die hoogste individuele telling in Suid-Afrika se toetsgeskiedenis is. Stokes het in Julie 251 lopies behaal en 12 paaltjies platgetrek in drie toetse teen Indië. Gill het ʼn groot rol gespeel in Indië se rekord-sege oor Engeland op Edgbaston waar hy in die eerste beurt 269 bygedra het.
Baie spelers het intussen hulle posisies op die wêreldranglyste verbeter na die briljante toetsreeks tussen Engeland en Indië. Indië se aanvangskolwer, Yashasvi Jaiswal, is nou vyfde onder die toetskolwers nadat hy 411 lopies aangeteken het, insluitend twee honderdtalle. Mohammed Siraj het 12 plekke verbeter na 15de op die toetsbouler-ranglys en nog ‘n Indiese snelbouler, Prasidh Krishna, 25 plekke tot 59ste. Die Engelse bouler Gus Atkinson is die eerste keer in die top-10 en Josh Tongue het met 14 posisies verbeter tot 46ste. Die reeks het 2-elk geëindig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….