Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Heel eerste, rugby: Die Leeus het van die sesde tot die derde plek opgeskuif op die punteleer van die Verenigde Rugbykampioenskap met hulle derde oorwinning van die seisoen gister in Wallis. Die Johannesburgse span het die Dragons op Rodney Parade 23-19 geklop en is nou net agter Leinster en Glasgow Warriors wat albei een wedstryd meer gespeel het. Die Bulle het tot die vierde plek verbeter nadat hulle Ospreys geklop het terwyl die Haaie tans in die 14de plek is en die Stormers 16de nadat hulle die naweek weer verloor het.
# Vervolgens, krieket: Die verdedigende kampioen, Australië, het hulle plek verseker in die halfeindronde van die Vroue T20-Wêreldbekertoernooi met ‘n oorwinning met nege lopies oor Indië in Sharjah. Australië het 151 vir agt aangeteken, met die aanvangskolwer Grace Harris wat uitgeblink het met 40. Indië is daarna beperk tot 142 vir nege. Intussen is Engeland bo-aan Groep B na ‘n indrukwekkende oorwinning met tien paaltjies oor Skotland. Engeland sal kwalifiseer vir die halfeindronde as hulle die Windies môre klop in hulle laaste groepswedstryd.
Nog krieket: Sri Lanka se legendariese kolwer, Mahela Jayawardene, is heraangestel as hoofafrigter van Mumbai Indians nadat hy van 2017 tot ’22 die posisie beklee het. Hy vervang die voormalige Suid-Afrikaanse paaltjiewagter, Mark Boucher, wat twee jaar lank hoofafrigter was van die vyfmalige Indiese Premierliga-kampioen. Onder Boucher het Mumbai verlede jaar deurgedring na die uitspeelronde, maar vanjaar onderaan die punteleer geëindig met net vier oorwinnings in 14 wedstryde. Jayawardene sê hy sien uit na die opwindende uitdaging.
# Ons maak ‘n draai by tennis: Jannik Sinner van Italië het seker gemaak hy eindig vanjaar in die nommer een-posisie toe hy die Sjanghaise Meesterstoernooi gewen het. Hy is die eerste man om meer as ses titels in een kalenderjaar te buit sedert Andy Murray in 2016 nege opgeraap het. Die 23-jarige het die Serwiër Novak Djokovic geklop om die jongste kampioen ooit in Sjanghai te word. Djokovic het probeer om die derde manspeler te word wat 100 toervlak-titels wen. Sinner, wat sy afgelope drie wedstryde teen Djokovic gewen het, sê daar is geen geheim nie:
# En, ons sluit af met padwedlope: Ruth Chepngetich van Kenia het die vroue-wêreldrekord met byna twee minute verbeter in die Chicago Marathon. Die 30-jarige het ‘n tyd van twee-uur-nege-minute-57-sekondes aangeteken en die vorige rekord van die Ethiopiër Tigst Assefa oortref, wat verlede jaar in Berlyn opgestel is. Chepngetich, wat ook in 2021 en ’22 gewen het, is die eerste vrou wat deur twee-uur-en-tien-minute breek. In die manswedloop het John Korir van Kenia ‘n persoonlike beste tyd behaal van twee-uur-twee-minute-en 44-sekondes vir ‘n oorwinning. Chepngetich sê dit is asemrowend om die wêreldrekord te verbeter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….