Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerstens na krieket: Die Protea-kaptein, Laura Wolvaardt, sê hulle veldwerk sal moet verbeter in vandag se Groep-B-wedstryd teen Skoland in die T20-Wêreldbekertoernooi. Van die veldwerkfoute wat in hul nederlaag met sewepaaltjies teen Engeland gemaak is, sluit in dat vangskote verbroue is. Wolvaardt sê die draaiboulers se akkuraatheid moet ook verbeter. Die Proteas staan steeds ‘n kans om die halfeindronde te haal indien hulle die wedstryde teen Skotland en Bangladesj kan wen.
# Vervolgens, padwedlope: Die Kaapstadse Marathon word oorweeg vir insluiting in die gesogte Abbott-wêreldmarathonreeks teen 2026. ’n Belangrike oorweging is om ’n voertuigvrye roete vir 2024 se wedloop te verseker. Om dit te bereik sal verskeie paaie op wedloopdag op 20 Oktober geen parkering toelaat nie. Stadsamptenare versoek inwoners om hieraan gehoor te gee om Kaapstad se bod vir globale erkenning te ondersteun.
# Ons maak ‘n draai by gholf: Die kaptein van die Europese Ryderbekerwenspan, Luke Donald, sê Sergio García oorweeg dit om weer by die DP World-toer aan te sluit sodat hy beskikbaar is vir volgende jaar se Ryderbekertoernooi. Die Spanjaard het laasjaar uit die DP World-toer bedank ná ‘n sportarbitrasiepaneel beslis het die strafmaatreëls teen diegene wat by LIV Golf aangesluit het, was gepas. García was afwesig toe Donald se Europese span die Amerikaners in Rome geklop het. Donald sê García besef wat vereis word:
# Sokker: Die voormalige middelveldspeler van Spanje en Barcelona, Andrés Iniesta, se glansryke loopbaan van 24 jaar het tot ʼn einde gekom. Die 40-jarige het sy buiging vir sy land in 2006 gemaak nadat hy vir ses jaar in nasionale junior spanne gespeel het, en het 13 doele in 131 verskynings aangeteken. Hy het ook 35 doele vir Barcelona behaal in 442 wedstryde vir die klub. Iniesta was baie emosioneel tydens die aankondiging maar sê dit was trane van trots omdat hy sy kinderdroom om ʼn sokkerspeler te wees kon verwesenlik.
# En, ons sluit af met tennis: Die gewese wêreld nommer een, Novak Djokovic, is steeds op koers om die 100ste titel van sy glansryke loopbaan in China in te palm. Die Serwiër het die Italianer Flavio Cobollo 6-1, 6-2 verpletter om die laaste 16 van die Shanghaise Meesterstoernooi te bereik. Die 37-jarige het slegs sewe punte op sy afslaan afgestaan. Djokovic speel vandag teen die Rus Roman Safiullin. Die Amerikaner Jimmy Connors en die Switser Roger Federer is die enigste twee spelers ooit om 100 beroepstoernooie te wen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….