Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Dit was nie ‘n goeie dag vir die Proteas se vroue- en manspan nie. Engeland het Suid-Afrika se vroue met sewe paaltjies verslaan in hulle Groep B-wedstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi in Sharjah in die Verenigde Arabiese Emirate. Die Proteas kon net 124 vir ses aanteken en Engeland het die teiken in die laaste boulbeurt verbygesteek.
Ierland het die mans met 69 lopies verslaan in die derde en laaste eendagwedstryd in Abu Dhabi. Die Proteas wen wel die reeks 2-1. Ierland se kaptein, Paul Stirling, het 88 bygedra en die span het geëindig op 284 vir nege. Suid-Afrika is daarna vir 215 uitgeboul.
‘n Besering kan die kaptein van die Protea, Temba Bavuma, intussen uit die reeks van twee toetse teen Bangladesj hou wat die 21ste begin. Hy het Vrydag sy elmboog beseer in die tweede eendagwedstryd teen Ierland en gister se laaste wedstryd misgeloop, toe Rassie van der Dussen die span aangevoer het. Dit is dieselfde probleem wat Bavuma twee jaar gelede ʼn lang ruk van die veld gehou het. Die spelers keer vandag terug van die Verenigde Arabiese Emirate en Bavuma sal dan ʼn spesialis raadpleeg.
# Vervolgens, rugby: Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, beplan om die veelsydige Springbok-agterspeler Canan Moodie toenemend as senter in te span in dié seisoen se Verenigde Rugbykampioenskap- en Kampioenebeker-kompetisie. Hy was buitesenter, met David Kriel aan sy binnekant, toe die Pretoriase span Ulster Saterdag op Loftus oortuigend verslaan het met 47-21. White sê die nommer 13-trui is waarskynlik die 21-jarige se langtermyn-toekoms, en het sy veelsydigheid geloof. Hy sê dis ongelooflik vir so ‘n jong speler om op 13, 14 én 15 te kan speel.
# Ons maak ‘n draai by sokker: Die titelhouers, Al Ahly van Egipte, speel teen Orlando Pirates van Suid-Afrika in Groep C in die groepfase van die CAF Kampioeneliga. Chabab Belouizdad van Algerië en Stade Abidjan van die Ivoorkus is die res van die groep. Ahly het Pirates in 2013 in die eindstryd in Egipte 2-0 gewen nadat hulle met 1-elk gelykop gespeel het in Soweto. Die semifinaliste in die laaste twee kompetisies, Mamelodi Sundowns, speel in groep B teen die Marokkaanse klubs, Raja Casablanca en FAR Rabat asook Maniema Union van die Demokratiese Republiek die Kongo.
# En ons sluit af met tennis: Holger Rune van Denemarke het die Italianer, Matteo Berrettini, in drie stelle verslaan om die Sjanghai Meesters se derde ronde te haal. Die wedstryd sou Saterdag plaasvind, maar is weens aanhoudende reën uitgestel. Nog ʼn Italianer, Flavio Cobolli, het Stan Wawrinka van Switserland in drie stelle geklop en kom in die derde ronde te staan teen die viermalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië. Die Amerikaner Taylor Fritz en Grigor Dimitrov van Bulgarye het ook hulle tweederonde-wedstryde gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….