Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 7 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket is vandag eerste op die spykaart: Die Protea-vroue se aanvangskolwer, Tazmin Brits, sê hulle verwag vandag ‘n taai stryd teen Engeland in hulle tweede Groep B-wedstryd in die T20-Wêreldbekertoernooi in die Verenigde Arabiese Emirate. Suid-Afrika het Vrydag in hulle eerste wedstryd die Wes-Indiese Eilande met tien paaltjies geklop. Die geskiedenis van die tweestryd met Engeland is in hulle teenstanders se guns, met 19 oorwinnings teenoor Suid-Afrika se vier. Brits sê hulle is skrikkerig vir Engeland se uitstekende boulaanval, maar is goed voorbereid:
# Vervolgens, rugby: Die skrumskakel Cam Roigard is ingesluit in Nieu-Seeland se groep van 36 spelers vir hulle jaareind-toer. Noah Hotham is daarom uitgelaat, terwyl die veterane Sam Cane, TJ Perenara en die nuweling Cortez Ratima hulle plekke behou in hoofafrigter Scott Robertson se groep. Die All Blacks se toer begin op 26 Oktober teen Japan in Yokohama voordat hulle te staan kom teen Engeland, Ierland, Frankryk en Italië. Robertson sê ‘n balans tussen ervaring en vars talent is deurslaggewend:
# Ons kom nou by tennis: Tennis: Aryna Sabalenka van Belarus se doelwit is om die wêreldnommer-eenposisie te herwin. Sy kan die gaping met Iga Swiatek van Pole vernou met ‘n goeie vertoning op die Wuhan Ope, wat weer gespeel word na ‘n afwesigheid van vyf jaar. Sabalenka is die top-gekeurde in die Chinese stad in die afwesigheid van Swiatek, wat aan die toernooi onttrek het nadat sy haar afrigter, Tomasz Wiktorowski, afgedank het. Sabalenka het verlede maand op die Amerikaanse Ope die derde Grand Slam-titel van haar loopbaan ingepalm.
Die wêreld se beste manspeler, Jannik Sinner, is intussen na ‘n taai stryd deur na die laaste 16 van die Sjanghai Meesters. Die Italianer het teruggeveg nadat hy die eerste stel verloor het en Tomas Martin Etcheverry van Argentinië geklop, terwyl hy sy stryd voortsit om sy sewende titel van die seisoen te wen. Die wêreld se nommer twee-speler, Carlos Alcaraz van Spanje, het die promotorskeuse Wu Yibing van China geklop. Die kampioen van 2019, Daniil Medvedev van Rusland, het ‘n oorwinning behaal oor die Italianer Matteo Arnaldi.
# Ons laaste brokkie vandag: Die Stad Johannesburg sê hy is in sy noppies oor die opwindende Formule Een Red Bull-vertoonrengeleentheid gister in Sandton. Die F1-legende David Coulthard was agter die stuur van die kampioen RB7-motor, wat aanhangers in ekstase gehad het met sy spoed en akkuraatheid. Die metro se woordvoerder, Virgil James, sê die byeenkoms was nie net ‘n platform vir internasionale handelsmerkblootstelling nie, maar het ook tydelike werksgeleenthede geskep vir plaaslike mense:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….