Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 Oktober 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Proteas-vroue speel tans teen die Wes-Indiese Eilande in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate in hulle eerste wedstryd in die T20-Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika is tans vyfde op die wêreldranglys, net een plek bokant die Windies. Die Proteas speel in Groep B ook teen Bangladesj, Engeland en Skotland. Die twee boonste spanne in die twee groepe kwalifiseer vir die halfeindstryde wat op die 17de en 18de van die maand plaasvind. Die eindstryd vind die 20ste in Dubai plaas.
# Vervolgens, motorsport: Brad Binder van Suid-Afrika het die vinnigste tyd in die oefeninge behaal vir die Japanese MotoGP, met die voorloper in die kampioenskap, Jorge Martin van Spanje, derde vinnigste. Binder, op sy Red Bull KTM, het die vinnigste rondetyd behaal en die sesmalige wêreldkampioen, die Spanjaard Marc Marquez, die tweede vinnigste. Martin is met vyf wedrenne oor 21-punte voor sy naaste teenstander, Francesco Bagnaia. Die Italianer is die verdedigende wêreldkampioen en was die sewende vinnigste.
# Nou rugby: Lusanda Dumke sal die Springbok-vroue aanvoer wanneer hulle môre op die Athlone-stadion in Kaapstad teen Australië te staan kom in die tweede ronde van die Vroue-15 se tweede seisoen. Dumke se insluiting in die opdrafspan is een van die veranderings wat Swys de Bruin en die afrigtingspan aangebring het vir die kragmeting na verlede week se oorwinning van 31-24 oor Japan. De Bruin verwag ‘n moeilike stryd teen Australië:
Twee pare broers is intussen ingesluit in die Haaie se opdrafspan vir môreaand se tweede Verenigde Rugbykampioenskaps-wegwedstryd wanneer hulle in Newport, Wallis, teen die Dragons te staan kom. Die Springbok Jaden Hendrikse sluit aan by sy broer, Jordan, terwyl kaptein Vincent Tshituka en sy broer Emmanuel losvoorspelers is. Jaden se insluiting op skrumskakel is die enigste verandering wat hoofafrigter John Plumtree aan die beginspan gemaak het. Phepsi Buthelezi en Francois Venter is terug in die groep en begin op die bank. Afskop is 6.15.
# Ons sluit af met sokker: Kaptein Kylian Mbappé speel nie vir Frankryk in die komende UEFA Nasiesliga-wedstryde teen Israel en België nie. Hy word steeds ‘n ruskans gegun nadat hy onlangs teruggekeer het na ʼn besering. Mbappé was ’n plaasvervanger vir Real Madrid in Woensdag se nederlaag van 1-nul teen Lille. Frankryk se wedstryd teen Israel komende Donderdag is na Boedapest verskuif weens die veiligheidsituasie in die Midde-Ooste. Die land speel die 14de in Brussel teen België. Italië is boaan Groep A2 op ses punte met Frankryk tweede met drie punte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….