Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby is eerste op die spyskaart: Afrigter Rassie Erasmus het drie spelers van die Springbok-groep vrygestel voor Saterdag se laaste Rugbykampioenskapstoets teen Argentinië in Mbombela. Ben-Jason Dixon is terug by die Stormers en Canan Moodie en Johan Grobbelaar by die Bulle voor die Verenigde Rugbykampioenskap die naweek begin. Volgens Erasmus het hy die volste vertroue in die groep vir die toets wat sal bepaal wie wen vanjaar die titel, en dit is belangrik dat nasionale spelers die plaaslike spanne ondersteun.
Sam Cane sal intussen Saterdag sy 100ste toets vir Nieu-Seeland speel nadat hy ingesluit is in die opdrafspan vir die laaste Rugbykampioenskapswedstryd teen Australië in Wellington. Beauden Barrett is weer gesond en keer terug op losskakel, terwyl skrumskakel TJ Perenara vir Cortez Ratima vervang. Op binnesenter vervang Anton Lienert-Brown vir Jordie Barrett, wat ‘n kniebesering het. Damian McKenzie sal op die bank wees. Afrigter Scott Robertson sê hulle sou graag die kampioenskap wou wen:
# Vervolgens, swem: Chad le Clos en Lara van Niekerk is weer fiks en gaan deelneem aan die Suid-Afrikaanse kortbad-kampioenskap wat vandag in Durban begin. Die byeenkoms gee atlete die geleentheid om te kwalifiseer vir die wêreld-kampioenskap wat in Desember in die Hongaarse hoofstad, Boedapest, plaasvind. Van Niekerk is ‘n tweemalige Statebond-kampioen en Le Clos het vier Olimpiese medaljes ingepalm. Albei sal aan vyf items deelneem. Van Niekerk sê sy is op die oomblik 90-persent fiks.
# Netbal Suid-Afrika bied van vandag af die grootste nasionale kampioenskap vir mans aan by die Ellisparkse buitelugbane in Johannesburg. Die eindwedstryd vind Maandag plaas. Die toernooi sluit 67 spanne in wat meeding in Senior A-, B- en Onder 23-afdelings. Ekurhuleni is die verdedigende kampioen. Spelers sal tydens die toernooi gekeur word om deel te neem aan proewe vir die nasionale span. Netbal Suid-Afrika se president, Cecilia Molokwane, sê die rekord-deelname is ʼn teken van die sport se toenemende gewildheid.
# En ons maak laaste ‘n draai by tennis: Die Wedloop na Turyn raak al spannender met die Spanjaard Carlos Alcaraz wat die derde speler geword het om sy plek te bespreek in die ATP-eindtoernooi in Italië in November. Hy sluit aan by die twee voorste spelers, Jannik Sinner van Italië en die Duitser Alexander Zverev, in die toernooi waaraan die seisoen se agt beste enkelspelspelers en dubbelspelpare deelneem. Die 21-jarige Alcaraz het sy Grand Slam-titels vanjaar verdubbel tot vier, en ook silwer gewen op die Olimpiese Spele in Parys. Dit sal sy derde agtereenvolgende deelname wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….