Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby is eerste aan die beurt: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het nege veranderinge en ‘n verskuiwing gemaak vir hul deurslaggewende Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Argentinië in Mbombela. Siya Kolisi is opnuut die span se kaptein en een van ses dubbele Wêreldbeker-wenners wat herroep is. Manie Libbok en Jaden Hendrikse is die eerste keer die skakelpaar. Eben Etzebeth sal met dié wedstryd die mees bekroonde Springbok van alle tye word. Erasmus sê hy is bly om ’n paar vars spelers terug te hê in die span:
Die Stormers het itussen op ‘n Verenigde Rugbykampioenskap-toer van drie wedstryde vertrek waar hulle in Wallis, Italië en Skotland sal meeding. Die groep van 29 sluit Ruhan Nel en Damian Willemse in wat van beserings herstel het. Willemse is een van vier Springbokke wat saamgaan. Die ander is Warrick Gelant, André-Hugo Venter en Joseph Dweba. Die nuwelinge Dave Ewers en Louw Nel is albei gereed om hul debuut te maak. Die Stormers se VRK-veldtog skop Saterdag af teen Ospreys van Wallis.
# Nou sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het ʼn voorlopige span van 32 bekendgemaak vir volgende maand Afrikabeker-kwalifiseerders teen die Kongo. Dit sluit in kaptein Ronwen Williams wat terugkeer ná ʼn skouerbesering, Orlando Pirates se doelskopper Tshegofatso Mabasa, en Bradley Cross van Kaizer Chiefs. Suid-Afrika en Uganda is gelykop met vier punte elk in Groep K, maar Uganda het ʼn beter doelverskil. Broos sal die groep na verwagting teen volgende week tot 23 spelers verminder.
# Ons maak ‘n draai by motorsport: Red Bull se hoof van wedren-strategie, Will Courtenay, gaan die Formule Een-span verlaat om as sportdirekteur by McLaren aan te sluit. Sy besluit volg nadat die tegniese hoof, Adrian Newey, en sportdirekteur Jonathan Wheatley ook die afgelope vyf maande bedank het. Courtenay was 20 jaar by Red Bull. McLaren se spanhoof, Andrea Stella, sê hy gaan ʼn groot bydrae maak tot die sterk leierskapspan aangesien hulle strewe is om wenners en kampioene te wees.
# En ons sluit af met tennis: Aryna Sabalenka van Belarus sê sy wil ʼn skitterende jaar op ʼn hoogtepunt afsluit deur weer die nommer een-posisie op die wêreldranglys te beklee. Die nommer twee is dié week die topgekeurde in die Chinese Ope nadat die nommer een en verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, weens persoonlike redeos onttrek het. Sabalenka, wat pas die Amerikaanse Ope gewen het, kan met ʼn oorwinning in Beijing groot vordering maak om Swiatek te onttroon. Sy sal die eerste keer speel nadat sy Jessica Pegula in New York geklop het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….