Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Rugby is eerste aan die beurt: Die Springbok-vroue het Spanje in ‘n toets op die Kaapstad-stadion met 36-19 afgeransel. Libbie Janse van Rensburg, een van die drie-drukkers, het die eerste Springbok-vrouespeler geword wat meer as 200 toetspunte aanteken. Die wedstryd was ter voorbereiding van die tweede weergawe van die Vroue-vyftien wat die einde van die maand afskop. Die prestasie-afrigter, Swys de Bruin, het sy span se verdedigende houding en aanvalsvermoë geloof:
# Vervolgens, krieket: Die veelsydige Protea-speler, Wiaan Mulder, sê hulle geskiedkundige nederlaag teen Afghanistan in die eerste internasionale eendagwedstryd in Sharjah, was pynlik en hulle moet beter doen. Hy het Woensdag met 52 die grootste bydrae gelewer tot Suid-Afrika se totaal van 106, maar Afghanistan het hulle met ses paaltjies afgeransel. Die tweede eendagwedstryd vind vandag plaas. Mulder sê hulle moet beter planne beraam teen Afghanistan se jong wegbreekbouler, Allah Mohammed Ghafanzar, wat drie paaltjies platgetrek het:
# Boks-nuus: Twee Britse swaargewigte, Anthony Joshua en Daniel Dubois, takel mekaar môre in ʼn IBF-kragmeting voor ʼn rekord-skare van 96-duisend op die Wembley-stadion in Londen. Dubois het die tussentydse IBF-titel in Junie gewen en sy status is tot wêreldkampioen verhoog nadat Oleksandr Usyk van Oekraïne onttrek het. Joshua bevind hom in die verpligte uitdager-posisie vir die wêreldtitel nadat hy in 2022 ʼn tweede agtereenvolgende nederlaag teen Usyk gely het. Joshua sê hy is nou meer volwasse en reg die uitdaging:
# ‘n Putjie gholf: Spelers wat by die Saoedi-ondersteunde LIV-gholfliga aangesluit het, sal voortaan toegelaat word om aan die Ryderbeker en PGA-kampioenskap deel te neem. LIV-spelers sal nou lidmaatskap mag kry by die Amerikaanse PGA, dieselfde lidmaatskap wat spelers van die PGA-toer kry, asook dié van die DP World Tour en nege ander toernooie wêreldwyd. PGA Amerika sê die besluit om LIV by sy lys goedgekeurde toernooie te voeg, is om seker te maak die Amerikaanse Ryderbeker-span het steeds toegang tot die beste Amerikaanse spelers.
# En, ons sluit af met motorsport: Lewis Hamilton van Mercedes kritiseer die president van die Wêreldliggaam vir Motorsport, Mohammed Ben Sulayem, wat aanvoer Formule Een-renjaers klink soos kletsrymers wanneer hulle vloekwoorde oor spanradio’s gebruik. Ben Sulayem het voor die naweek se Singapoer-Grand Prix gesê hulle moet onderskei tussen motorsport en rap-musiek. Hamilton sê hy verstaan Ben Sulayem se kommer oor oormatige gevloekery, maar daar is ‘n rasse-element in stereotipiese taal, met die meeste kletsrymers wat swart is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….