Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Krieket is vandag eerste aan die beurt: Afghanistan het Suid-Afrika met ses paaltjies geklop in die eerste van drie eendagwedstryde by die Sharjah-krieketstadion in die Verenigde Arabiese Emirate. Wiaan Mulder se loopbaan-beste van 52 was nie genoeg nie, want Fazalhaq Farooqi het vier paaltjies geneem om die Proteas vir 106 terug te stuur. Gulbadin Naib het geantwoord met ‘n onoorwonne 34 en die tuisspan se oorwinning verseker met 144 balle oor. Dit is die eerste keer dat Afghanistan Suid-Afrika in enige formaat klop. Die tweede eendagwedstryd word Vrydag by dieselfde stadion gespeel.
Pakistan se vrouespan het Suid-Afrika intussen met 13 lopies verslaan in die tweede T20-wedstryd by die Multan-krieketstadion om die reeks van drie met een-elk gelykop te maak. Kaptein Fatima Sana en Nida Dar se vennootskap van 60 lopies het bygedra tot die tuisspan se telling van 181 vir vier in hul 20 boulbeurte. In reaksie daarop het Sune Luus ‘n onoorwonne 53 van 29 balle behaal, maar dit was te min vir die besoekers en hulle plaas 168 vir vier op die telbord. Die bepalende wedstryd word Vrydag op dieselfde stadion gespeel.
# Vervolgens, rugby: Stut Ethan de Groot, vleuel Caleb Clarke en heelagter Beauden Barrett is terug in die All Blacks se begin-15-tal vir Saterdag se eerste Bledisloe-beker-wedstryd in Sydney. Afrigter Scott Robertson het vier veranderings aangebring. Will Jordan skuif na regtervleuel, Sevu Reece is reserwe, terwyl Barrett na die heelagterposisie skuif. Die Nieu-Seelanders spog sedert 2003 met die Bledisloe-beker en is die gunstelinge om vanjaar weer die trofee te wen. Robertson verwag ʼn taai kragmeting:
# Ons maak ‘n draai by sokker: Manchester City het sy Kampioene-liga veldtog met ‘n nul-nul gelykop-uitslag teen Inter Milan by di Etihad-stadion begin. Dit was ‘n herhaling van die eindstryd in 2023 wat City in Istanboel gewen het. Jamie Gittens het twee doele aangeteken met Borussia Dortmund wat Club Brugge met drie-nul verslaan het. Celtic het hulle eerste wedstryd vir die eerste keer in 13 pogings gewen deur Slovan Bratislava met vyf-een kaf te draf. Paris St-Germain het die nuwelinge, Girona, met een-nul geklop. City se bestuurder, Pep Guardiola, sê hulle vertoning was goed:
# Ons sluit af met tennis: Die Amerikaner Coco Gauff, sesde op die wêreldranglys, het haar 14-maande vennootskap met die afrigter Brad Gilbert beëindig. Die 20-jarige het Gilbert verlede jaar aangestel om saam met die Spaanse afrigter Pere Riba te werk. Sy het kort daarna uitstekend presteer en onder meer die Amerikaanse Ope gewen as die jongste Amerikaanse vrouespeler sedert Serena Williams 25 jaar gelede. Riba is weg kort na Gauff die Amerikaanse Ope gewen het en hy rig nou die Olimpiese goue medaljewenner, Zheng Quinwen af.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….