Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 17 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerstens na rugby: Die kaptein van Fidji, Waisea Nayacalevu, het onthul die kwarteindstryd van die 2023 Rugby Wêreldbeker tussen sy span en Engeland in Frankryk is ure voor die afskop byna afgestel. Hy beweer korrupsie in die land se beheerligaam was die kern van die probleem. In ‘n onderhoud met die Daily Mail in Brittanje sê Nayacalevu die spelers is ook bonusse beloof wat nooit betaal is nie. Hy speel tans vir die Engelse Premierskapsklub Sale Sharks, maar die 34-jarige sê sy droom is om terug te keer huis toe om die stelsel te help regruk.
Die All Blacks se voorspeler-afrigter, Jason Ryan, sê intussen hulle het die gebiede waar hulle moet verbeter fyn ontleed en goeie vordering gemaak. Nieu-Seeland het hulle laaste twee toetse teen die Springbokke in Suid-Afrika verloor en slegs een van hulle vier Rugbykampioenskap-toetse gewen. Die All Blacks kom Saterdag in Sydney teen Australië te staan waar die Bledisloe-beker ook op die spel is. Ryan sê daar is druk op hulle om weer te begin wen:
# Vervolgens, gimnastiek: Die Amerikaanse gimnas, Jordan Chiles, het ‘n appèl-aansoek by die Switserse federale hooggeregshof ingedien om haar Olimpiese brons medalje terug te kry. Sy is van haar eerste individuele Olimpiese medalje gestroop nadat die Roemeense gimnastiekspan die besluit om haar finale telling in die vloeroefening te hersien, by die Hof vir Arbitrasie in Sport betwis het. Die hof het die uitdaging gehandhaaf. Chiles se prokureurs voer aan die prosedures wat tot die Hof vir Arbitrasie in Sport se besluit gelei het, was in wese onregverdig.
# Ons maak ‘n draai by sokker: Daar is toenemend gissinge dat Benni McCarthy en Mamelodi Sundowns gesprekke voer oor sy beskikbaarheid as afrigter. Die voormalige doelskieter van Bafana Bafana het sy pos as afrigter van Manchester United se eerste span aan die einde van die seisoen opgegee en is na berig word gretig om terug te keer na Afrika om ʼn groot span af te rig. Te midde van die gerugte is Sundowns vasbeslote om die verdediging van hulle Premierliga-titel vanaand met ʼn oorwinning oor SuperSport United op Loftus Versfeld te begin.
# En ons sluit af met krieket: Die Proteas-manspan is tans in die Verenigde Arabiese Emirate waar hulle vanaf môre in Sjarja in ʼn eendagreeks van drie wedstryde teen Afghanistan te staan kom. Suid-Afrika bou aan diepte in sy groep deur sommige sleutelspelers ʼn blaaskans te gun en terselfdertyd ander terug te verwelkom, soos Lungi Ngidi, wat na ʼn kuitbesering slaggereed is om die boulaanval te lei. Die 28-jarige snelbouler sê hulle onderskat Afghanistan glad nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….