Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 16 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons het heelwat nuus oor rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy verwag Saterdag ‘n moeilike toets teen Argentinië in die Rugby-kampioenskap-kragmeting in Santiago del Estero. Die Bokke kan hul eerste Kampioenskapstitel sedert 2019 buit as hulle die Pumas kan verslaan. Die Argentyne is die enigste ander mededinger om die titel terwyl die Springbokke die enigste onoorwonne span in die kompetisie is. Erasmus sê daar is nie veel verskil tussen die twee spanne nie, en voeg by voorbereiding en prestasie op toets-dag sal die bepalende faktor wees:
Argentinië sal intussen Saterdag in Santiago sonder sy ervare senter, Matías Orlando, moet klaarkom in die Rugbykampioenskap-kragmeting teen die Springbokke. Die 32-jarige speler, wat nog nie in vanjaar se kompetisie op die veld was nie, sukkel met ʼn spierbesering. Hoofafrigter Felipe Contepomi het die 21-jarige nuweling-vleuel, Santiago Pernas, as Orlando se plaasvervanger opgeroep. Pernas het skitterend vertoon in Super Rugby Americas en is aangewys as die seisoen se beste agterspeler in die liga.
Dit lyk ook of die stut van die All Blacks Fletcher Newell albei Bledisloe-bekertoetse teen Australië dié maand gaan misloop weens ‘n kuitbesering. Hy is beslis uit Saterdag se kragmeting in Sydney, en sal weer ondersoek word voor die her-ontmoeting in Wellington op 28 September. Die Nieu-Seelandse beheerliggaam sê Newell het die besering opgedoen in hulle westryd teen die Springbokke in Kaapstad, wat Suid-Afrika met 18-12 gewen het.
# Nou nuus oor gholf: Die Suid-Afrikaners Jean Hugo en Ruan Korb het op 20 onder baansyfer met 63 klaargemaak om die Ubunye-kampioenskap by die Silver Lakes Gholf- en Natuurlandgoed in Pretoria te wen. Die twee beroepspelers het in spanformaat aan die Sonskyn-toer deelgeneem. Die spanne met Trevor Fisher Junior en Stefan Wears-Taylor, en Jaco Ahlers en Michael Hollick, was gesamentlik tweede met 16 onder baansyfer. Hugo sê hy en Korb het ʼn goeie balans gehad:
# Ons sluit af met tennis: Denis Shapovalov en Felix Auger-Aliassime het die 2022-kampioene, Kanada, se plek bespreek by vanjaar se Davisbeker-finaal wat in November in Malaga plaasvind. Shapovalov het Daniel Evans verslaan om Kanada ʼn een-nul-voorsprong te gee in Groep D. Auger-Aliassime het die Amerikaanse Ope-semifinalis, Jack Draper geklop. Die Britte het die finaal-dubbelspel gewen om dit twee-een te maak, maar dit was nie genoeg om hulle na die eindronde te laat deurdring nie. Ander lande wat die finaal gehaal het, is die heersende kampioene Italië, Spanje, Amerika, Nederland, Duitsland, Australië en Argentinië.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….