Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Dolphins-kolwer Marques Ackerman sal weereens die kaptein van Suid-Afrika-A wees wanneer hulle die besoekende Nieu-Seeland-A aandurf. Die twee lande sal vanaf die 30ste van die maand drie eendag-wedstryde op Willowmoorepark in Benoni, Gauteng, speel, gevolg deur twee vierdag-wedstryde in Potchefstroom en Benoni. Ackerman het Suid-Afrika ook op die onlangse toer na die Wes-Indiese Eilande aangevoer waar hulle die eendag- én die vierdag-reeks gewen het. Die Protea-snelboulers Gerald Coetzee en Kwena Maphaka is in albei groepe ingesluit.
# Rugby: Een van die sterre van die Junior Springbokke wat onlangs die Onder-20-wêreldkampioenskap gewen het, die losvoorspeler Batho Hlekani, gaan van volgende seisoen vir die Leeus speel. Hy sal van Durban na Johannesurg verhuis wanneer sy kontrak met die Haaie die einde van die jaar verstryk. Die 20-jarige en sy Junior Bok-spanmaats Cheswill Jooste en Haashim Pead het aangesluit by die oefenkamp van die senior Springbokke in Johannesburg voor die begin van die Rugby-kampioenskap.
Nog rugbynuus: Die Britse en Ierse Leeus se haker, Dan Sheehan, is vir vier wedstryde geskors ná ‘n gevaarlike beweging in Saterdag se derde toets in Sydney. Die Ier het in ʼn losgemaal ingestorm en die Australiese losskakel, Tom Lynagh, teen die kop getref. Wêreldrugby se onafhanklike hersieningskomitee beskou Sheehan se optrede as roekeloos. Die straf sal tot drie wedstryde verminder word as hy ʼn afrigtings-ingrypingskursus voltooi. Sheehan is nie beskikbaar vir Leinster se voorseisoense wedstryd teen Cardiff en die Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryde teen die Stormers en die Haaie nie.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, speel in die Cincinnati Ope, sy eerste toernooi sedert hy Wimbledon verlede maand gewen het. Hy sal die topgekeurde wees wanneer die toernooi later die week begin. Die Italianer het aan die Kanadese Ope onttrek nadat hy die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz, in Londen verslaan het. Die Spanjaard gaan by hom aansluit in Amerika, asook die plaaslike speler Taylor Fritz en die Duitser Alexander Zverev. Die toernooi is verleng na twee weke, met 96 spelers wat deelneem.
Die driemalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, het intussen aan die toernooi onttrek om ‘n nie-mediese rede. Die 24-malige Grand Slam-enkelspelkampioen het nog nie weer gespeel sedert verlede maand se halfeindstryd-nederlaag teen Sinner op Wimbledon nie. Djokovic is geskeduleer om aan die Amerikaanse Ope deel te neem wat hy drie keer gewen het. Die laaste keer was in 2023 toe hy met Daniil Medvedev afgereken het. Die 38-jarige het tot dusver die jaar in die halfeindronde van al drie Grand Slam-toernooie verloor.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….