Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met atletiek: Die Suid-Afrikaner Caster Semenya het haar saak gewen in die Europese Hof vir Menseregte. Die hof het 2023 se uitspraak gehandhaaf teen die Hof vir Arbitrasie in Sport wat teen die tweemalige Olimpiese 800-meter-kampioen beslis het. Daar is bevind die uitspraak het gediskrimineer nadat Semenya verbied is om deel te neem weens Wêreldatletiek se reëls oor testosteroon-vlakke. Die reëls is in 2018 ingestel en verbied deelname van atlete met verskille in geslags-ontwikkeling. Kenners sê die uitspraak kan geslags-beleid in sport hervorm en is ‘n reuse-oorwinning vir menseregte.
# Nou rugby: Die Junior Springbokke het Skotland 73-14 afgeransel om hul plek te bespreek in die halfeindronde van die Wêreldrugby Onder 20-kampioenskap in Italië. Suid-Afrika het elf drieë gedruk met die vleuel Jaco Williams en die skrumskakel Ceano Everson wat elk twee keer gedruk het. Dis die Junior Bokke se derde agtereenvolgende bonuspunt-oorwinning in die groepsfase. Suid-Afrika het ook met Australië en die verdedigende kampioen, Engeland, afgereken om die halfeindronde te haal.
Die Oos-Kaapse regering vra mense intussen om die Springbokke te ondersteun in Saterdag se tweede toets teen Italië in Gqeberha. Nelson Mandelabaai se eerste toets in vier jaar sal ‘n tuiskoms wees vir afrigter Rassie Erasmus en spelers soos Makazole Mapimpi, wat van Mdatsane kom. Die provinsiale regering se woordvoerder, Khuselwa Rantjie, sê die wedstryd is ‘n trotse oomblik vir die provinsie en die Bokke is ‘n samebindende krag en simbool van nasionale trots:
# Krieket: Die verdedigende kampioen, MI Cape Town, gaan seisoen vier van die SA20 op 26 Desember op Nuweland afskop teen Durban’s Super Giants. Die jaarlikse T20-toernooi begin vanjaar vroeër as gewoonlik weens die afwesigheid van internasionale krieket in Suid-Afrika oor die Kerstyd. Twee wedstryde word twee dae later gespeel wanneer Pretoria Capitals en Joburg Super Giants kragte meet in Centurion en Paarl Royals en Sunrisers Eastern Cape op Bolandpark ontmoet. Die eindstryd vind op 25 Januarie plaas.
# En sokker: Die UEFA-ligakampioenskapwenner, Paris Saint-Germain, het Real Madrid in New York 4-0 afgeransel om die Wêreldklubkampioenskap se eindstryd te haal. Luis Enrique se span was na slegs 24 minute reeds 3-0 voor met twee doele deur Fabián Ruiz en een deur Ousmane Dembélé. Die plaasvervanger Goncalo Ramos het die vierde doel aangeteken. PSG is die groot gunsteling wanneer hy Chelsea in Sondag se eindstryd pak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….