Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerste aan die beurt is rugby: SA Rugby het die gewese kaptein van die Springbok Sewes, Phillip Snyman, amptelik aangestel as hoofafrigter van die Blitsbokke tot die Olimpiese Spele in Los Angeles in 2028. Hy het die afgelope ses maande waargeneem. Die Blitsbokke het onder sy leiding die bronsmedalje gewen op die Spele in Parys. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die manier waarop Snyman die Blitsbokke weer op die wenpad gekry het, spreek boekdele van sy vermoëns as breier.
# Nou, gholf: Die Suid-Afrikaner Daniël van Tonder en Malcolm Mitchell slaan vandag saam af in die Ubunye-kampioenskap op die Silver Lakes-gholf en natuurlandgoed in Pretoria. Sonskyntoer-beroepspelers ding in die toernooi mee in spanformaat. Van Tonder het net in Augustus twee oorwinnings op die Sonskyn-toer behaal. Die jong ster Yurav Premlall, met Ryan van Velzen as sy spanmaat, sê sy selfvertroue het ‘n hupstoot gekry nadat hy tydens albei Van Tonder se seges tweede plekke behaal het:
# Ons maak ‘n draai by krieket: Engeland se toetskaptein, Ben Stokes, gaan volgende maand saam met sy span in Pakistan toer nadat ʼn geskeurde agterknie-sening hom op die kantlyn gehou het tydens die onlangse reeks teen Sri Lanka. Hy werk steeds aan sy herstel saam met Zak Crawley wat in Julie ʼn vinger gekraak het. Agt spelers is oor van die groep wat Pakistan in 2022 drie-nul verslaan het. Die twee spanne speel vanaf 7 Oktober in drie toetse teen mekaar. Stokes is ook verbind tot M-I Cape Town in volgende jaar se derde seisoen van die SA20.
# Ons kyk na motorsport: McLaren se Formule Een-spanhoof, Andrea Stella, sê pogings om Lando Norris te steun in die bestuurderskampioenskap, sal volgens die span se beginsels vir sportmanskap en regverdigheid plaasvind. Die span sal voorkeur gee aan Norris bo Oscar Piastri in hul stryd om die bestuurders- sowel as die vervaardigerskampioenskap te wen. Norris spring die naweek in Azerbeidjan se Grand Prix weg met ʼn agterstand van 62 punte teenoor Max Verstappen van Red Bull. Die gewese wêreldkampioen Nico Rosberg sê dis alles nuut vir McLaren:
# En, ons sluit af met hokkie: Die Australiese beheerliggaam het ‘n Olimpiese atleet vir 12 maande geskors nadat hy in Parys kokaïen probeer koop het. Die Franse polisie het Tom Craig aangekeer en later sonder aanklag vrygelaat. Die 29-jarige was ‘n lid van Australië se span wat op die Spele in Tokio silwer gewen het, maar hulle het nie in Parys ‘n medalje ingepalm nie. Hokkie Australië het ses maande van die straf opgeskort. Craig, wat reeds meer as 100 wedstryde vir sy land gespeel het, sal volgende jaar weer vir Australië in aanmerking kom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….