Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, verwag vanmiddag ʼn taai stryd teen die gasheerspan, Suid-Soedan, in hulle Afrikabeker-kwalifiseerder op die Juba-nasionale stadion. Suid-Afrika se openingswedstryd teen Uganda op die Orlando-stadion in Soweto het Vrydag gelykop geëindig met twee-elk. Broos sê hulle sal die foute teen Uganda moet regstel as hulle vandag wil wen:
# Vervolgens, rugby: Hoofafrigter Scott Robertson verwag moeilike vrae tuis na die All Blacks se rampspoedige besoek aan Suid-Afrika. Die eens gevreesde span het nou vier wedstryde agtereenvolgens teen die Springbokke verloor en is tans in ʼn ongekende derde plek op die Rugbykampioenskapspunteleer. Die Kiwi’s het ook onverwags teen Argentinië verloor in hulle eerste wedstryd in die kompetisie. Volgens Robertson was Saterdag se toets in Kaapstad ʼn fantastiese wedstryd. Hy het die wêreldkampioene gelukgewens en sê hulle weet hoe om dinge te doen.
# Ons loer in by tennis: Jessica Pegula het Coco Gauff vervang as Amerika se beste vrouespeler nadat sy in die eindstryd van die Amerikaanse Ope teen Aryna Sabalenka van Belarus verloor het. Pegula is nou die wêreld-nommer-drie ná Iga Swiatek van Pole en Sabalenka, terwyl Gauff tot sesde plek teruggesak het. Elena Rybakina van Kazakstan is steeds vierde, die Italianer Jasmine Paolini vyfde en Zheng Qinwen van China sewende. Die Amerikaner Emma Navarro het vier plekke verbeter tot agtste. Barbora Krejcikova van die Tsjeggiese Republiek en Maria Sakkari van Griekeland voltooi die top-tien.
# Ons maak ‘n draai by motorsport: Die hoof van McLaren se Formule Een-span, Andrea Stella, sê hulle moet die mededingendheid van hulle renmotor verder ontgin. Lando Norris van McLaren het Max Verstappen van Red Bull se kampioenskaps-voorsprong tot 62 punte verminder. Red Bull het nou ‘n voorsprong van agt punte teenoor McLaren op die vervaardigerspunteleer. Stella sê Ferrari se verbeterde vertoning is goed aangesien meer motors wat punte van Red Bull wegneem, positief vir sy span kan wees. Ná die naweek se Grand Prix in Azerbeijan is daar nog net sewe wedrenne oor.
# En ten slotte: Die Wêreldagentskap teen Opkikkers het sy beroep op die Amerikaanse Teen-opkikkkeragentskap herhaal om skoon sport beter te beskerm. Twee-en-dertig nasionale en streek teen-opkikkersorganisasies in Europa, Asië en Afrika is bekommerd dat Amerika atlete na groot byeenkomste stuur sonder om hulle behoorlik te toets. Volgens die wêreldliggaam neem 90-persent van alle sportlui in Amerika buite die beskerming van die teenopkikkerkode aan sportbyeenkomste deel. Die Amerikaanse agentskap sê die wêreldliggaam probeer die aandag aflei van sy versuim om sy werk as wêreldwye reguleerder te doen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….