Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 September 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met die Paralimpiese Spele: Span Suid-Afrika het ses medaljes verower in Parys, wat twee goues en vier brons insluit. Twintig atlete het aan sewe sportsoorte deelgeneem teenoor die 34 wat drie jaar gelede sewe medaljes in Tokio gewen het. Mpumelelo Mhlongo het een van die goue medaljes in die mans T44 100-meter gewen en die 19-jarige Simoné Kruger die ander een in die vroue-skyfwerp F38. Donald Ramphadi en Lucas Sithole met hul brons medaljes het geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaners te word wat op die Spele ‘n medalje wen in rolstoeltennis.
# Vervolgens, rugby: Die Franse Top 14-klub, Racing 92 het bevestig hy het met die Springbokkaptein, Siya Kolisi, ooreengekom om die klub te verlaat, hoewel daar nog twee jaar van sy kontrak oor is. Die 33-jarige het verlede Januarie van die Sharks na Racing oorgeskuif. Hy het die vorige seisoen slegs 18 keer vir die Franse klub uitgedraf en een drie gedruk. Kolisi sal waarskynlik weer by die Sharks aansluit. Racing het die Top 14-seisoen Saterdag met ‘n nederlaag van 31-28 teen Castres afgeskop.
Die Haaie het intussen die momentum opgebou vir die uitklopfase van die Curriebeker nadat hulle die Bulle 24-18 in Durban geklop het. Albei spanne het twee drieë gedruk, maar dit was die skopskoen van die losskakel Siya Masuku wat die verskil gemaak het, met vier strafskoppe en ‘n doelskop. Die twee spanne sal mekaar Saterdag weer die stryd aansê wanneer hulle in die halfeindronde op Loftus Versfeld in Pretoria uitdraf. In die ander halfeindstryd is die voorlopers, die Leeus, gasheer vir die Cheetahs.
# Nou ‘n draai by tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, het sy eerste Amerikaanse Ope gewen en die eerste Italiaanse man geword wat die enkelspel-titel op Flushing Meadows buit. Hy het die Amerikaner Taylor Fritz 6-3, 6-4, 7-5 verslaan. Die 23-jarige Sinner het sy eerste Grand Slam-titel in Januarie op die Australiese Ope gewen, en is ook die eerste man in 47 jaar wat sy eerste twee Grand Slam-titels in dieselfde seisoen opraap. Sinner sê hy kan nie die twee Grand Slam-titels met mekaar vergelyk nie:
# En motorsport: Die sesmalige MotoGP-wêreldkampioen, Marc Márquez, het agtereenvolgende seges behaal toe hy die San Marino Grand Prix in Italië gewen het. Hy het verlede naweek in Spanje ook gewen. Ligte reën het sake aanvanklik bemoeilik, maar die Gresini Ducati-jaer het dit tot sy voordeel gebruik. Francesco Bagnaia was tweede, Enea Bastianini derde en die Suid-Afrikaner Brad Binder vierde. Márquez, wat Jorge Martín se voorsprong tot slegs sewe punte verklein het, sê hy het meer kanse gewaag in die reën:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….